Dit is die derde groot wysheid uit die Woord van God.
Die lewe gaan nie oor myself nie. “Your life is not
about yourself.” Die lewe draai nie om myself nie.
Dit is meer as gister se waarheid dat ék nie belangrik is nie.
Dit is die besef en doelbewuste aksie om weg van myself
af te leef, na God toe, én na my medemens toe.
Dit laat ons selfs ophou om gedurig net op ons eie
geestelike groei te fokus. Dit laat my uitreik na mense
ter wille van hulle verhouding met die Here! Selfs al hou
dit groot nadele vir my in. Dink maar aan wat Paulus alles
deurgemaak het in hierdie wysheid.
Juis die mense wat dit regkry om weg van hulleself te leef,
is die ware verskil-makers! Nederigheid as sodanig is nie
genoeg nie. Nederige diensknegte is waaroor dit gaan.
Kyk weer na Jesus se koms na die wêreld volgens Fil. 2:7:
“...maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van
‘n slaaf aan te neem...” Dink daaroor na op pad na Kersfees.
Dit is wat Jesus doen met sy koms na die wêreld.
En dan sê Hy: Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle.
Selfs al het die wêreld klein en bereikbaar geraak in die
digitale ontploffing, is mense eensaam, verlore, moeg,
ontwortel, bedruk. Sonder hoop. Daarom smag die mense
na egtheid wat genesend van aard is. Jesus vra van ons om
dit te wees. Sy verteenwoordigers wat hoop, lewe en
bevryding in die wêreld bring.
Dit wat Hy alleen kan gee, deur ons! ‘n Eerste plek in die
koninkryk van God is in elk geval om aan ander mense die
plek vóór jou te gee. Dit is om buite jouself en jou
geriefsones te leef. Sonder woorde praat jou lewe luidkeels!
Jy kan met onbekendheid en onbelangrikheid saamleef.
Ware geloof vra die moed om te weet jy leef nie vir jouself nie,
maar dien ander, in die Naam van die Here!
“Your life is not about yourself.”
Ernest