Richard Rohr beklemtoon hierdie as die vierde
wysheid uit die Woord van God om te sterf aan onsself,
sodat ons voor God kan leef: Ek is nie in beheer nie!
Dit is vir baie mense ‘n skok om te besef dat hulle nie in
beheer van sake is nie. Baie mense is inderdaad
“beheervrate”. Hulle wil beheer oor hul eie lewens neem
en behou. En selfs oor die van ander mense. Tog is die
lewe onvoorspelbaar. Dit is grootliks buite ons beheer.
Al dink ons nie so nie. Dink maar aan ‘n band wat bars op
hoë spoed, en ‘n motor wat tol. ‘n Inbraak of rooftog by
jou huis. Situasies waarin jy maklik magteloos kan wees.
Die dilemma is dat ons nie bedraad is om buite beheer te
wees nie. Ons wil in beheer wees. Ons dink selfs God
verwag dit van ons! Ons dink die feit dat Hy ons aangestel
het om saam met Hom oor die skepping te heers, beteken
om in beheer te wees. So is daar ook baie beheer-beheptes
in die kerk. Dink mooi: Geloof beteken eintlik om
buite beheer te wees. Ja, jy het reg gelees. Geloof is sekerheid
en onsekerheid tegelyk. Dit is die vaste sekerheid van God,
maar onsekerheid van die res. Psalm 146:3 sê:
“Moenie op magtiges vertrou nie, nie op ‘n mens nie;
hy kan jou nie red nie.” Moet nie eers op jouself vertrou nie.
Net op God. Jy is môre dalk nie eers meer hier nie...
Buite beheer is egter nie gelyk aan geen beheer nie.
Natuurlik mag ons beplan. Geloof sluit nie beplanning uit nie.
Die punt is dat ons nie ons sekerhede en geloof eksklusief
hierop bou nie. Ons waag dit om saam met Jesus op die
water te loop. Dit is Hy wat tot ons redding verskyn.
Met die regte soort organisasie leer ons juis om
uit die Here se pad te staan, en nie in sy pad nie!
Die Heilige Gees is aan die werk, en in beheer!
Ernest