Die laaste wysheid wat Richard Rohr beklemtoon,
uit die Woord van die Here, om te sterf aan onsself
en voor God te kan leef, is die besef dat ons sterflik is!
Ek gaan sterf! “You are going to die.”
Ons moet gedurig daarmee rekening hou.

Dood en lewe is bure. Die een loop oor in die ander.
Lewe gaan egter voort ten spyte van hierdie wete.
Die Bybel sê dat ons woning hier tydelik is. Ons slaan
nie die tentpenne te diep in nie. Ons burgerskap is
uiteindelik elders. Dit moet ons juis perspektief op die
lewe gee. Ons lewe is geborge in God. Daar berei Jesus
vir ons ‘n plek. Ons hoef nie heroïes oor die dood te
wees nie. Maar ons vrees dit ook nie. Of ons lewe,
en of ons sterf, ons behoort aan Christus. Die wete dat
ons sal sterf, laat ons juis voluit lewe! Daarom kon
Paulus in Fil. 4:20-21 bely en leef: “Ek wil ook nou,
soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele
wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe,
want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe,
is vir my wins.”

Hoe bring ons hierdie kort stukkie lewe van ons met
die nodige wysheid deur? Richard Rohr skryf:
“We do not think ourselves into new ways of living,
we live ourselves into new ways of thinking!”
Ons manier van leef vorm ons gedagtes. Doelbewuste
keuses om anders te leef en dit ook elke dag te doen,
is die sleutel tot sinvolle lewe. Begin vandag anders lewe,
soos die Here dit wil. In plaas daarvan om nog ‘n stukkie
verbruikerskultuur te jaag, soek iemand op wat verwond is.
Gee om vir mense. Raak vrygewig. Moenie wag vir beter
dae nie. Die lewe gaan verby. “Goeie ou dae” kom ook nie
terug nie. Moenie die lewe mis nie. Hou op kla!
Die lewe skuld jou niks! Waar is jou kop en lewe gestrand?
Die Heilige Gees wil dit bevry! Laat Hom toe!
Blydskap kom wanneer jy jou lewe begin neerlê,
en van selfsug ontslae raak. Leef buite jou benoude bokse.
Dankbaar vir vandag se genadebrood!

Ernest