Jy is ‘n geroepene van die Here. Jy kom nie per
toeval van êrens af hier aan nie. Hoekom leef jy?
Jy leef omdat God dit so wou! Hy het besluit om
jou te laat wéés. Hy het jou geskep na sy beeld.
Jy is nie ‘n biologiese toevalligheid nie. Het jy al
daaraan gedink: Uit miljoene moontlike selletjies
wat almal ‘n gelyke kans het vir bevrugting,
het jou selletjie die wedloop gewen! Jy is die
resultaat van ‘n biologiese wonderwerk van God.
God het jou gekies en geskep om ‘n bepaalde plek
vir Hom op aarde te vul. Vol te staan.
Efesiërs 1:4 sê daaroor: “So het Hy, nog voordat die
wêreld geskep is, ons is Christus uitverkies om heilig
en onberispelik voor Hom te wees.” God ken jou en
kies jou nog voor Hy die wêreld skep! Ons verstand
is te klein daarvoor. Ons het hier met God te doen!
Jy is nou hier! Om God se koninkryk te verteenwoordig
en op te bou en uit te bou. Maak nie saak wat jy in die
lewe doen vir ‘n beroep nie, wie jou familie is nie,
of jou vriendekring nie,...
daar verteenwoordig jy nou die Here.
Paulus was ook duidelik bewus van sy eie roeping.
In Galasiërs 1:2 sê hy: “Ek is ook nie deur ‘n mens
aangestel nie, maar deur Jesus Christus en deur God
die Vader wat Hom uit die dood opgewek het.”
Hy het geweet dat God ‘n taak vir hom het. Dit is nie
mense wat Hom aanstel nie, maar God self. Hy het hom
in genade gekies en geroep om ‘n apostel te wees.
En Paulus doen waarvoor God hom roep.
As kind van die Here het jy verseker ook ‘n roeping.
Dit is om voluit vir die Here te leef in wat jy doen,
daar waar jy is, met alles wat jy het.
Doen alles wat jy doen tot verheerliking van God.
Behandel elke mens met wie jy te doen kry soos die
Here dit wil hê. Juis omdat jy ‘n wonder-skepping van
God is, deur Hom beplan van altyd af, geskep na sy beeld,
om Hom te verteenwoordig, vervul met die Gees wat in
jou woon, juis daarom kan, moet en sal jy ‘n verskil
vir Hom maak in hierdie wêreld.
Gaan groot, vir Hom!
Ernest