Daar word maklik van Christene gesê dat hulle
skynheilig is. Gewoonlik is dit ‘n stok waarmee
geslaan word, dalk uit eie skuldbesef? Wie weet?
Feit is, skynheiligheid het geen plek in die gemeente
van die Here nie. Dit moet werklik met wortel en tak
uitgeroei word, want dit raak ons getuienis vir die
Here direk!
Vra maar vir Paulus. Hy moes op ‘n dag met niemand
minder nie as Petrus daaroor praat. Hy het hom ook
skerp uitgespreek en Petrus nie gespaar nie. Dit het in
Antiogië gebeur. Toe Petrus, ook genoem Sefas, daar
aankom, het hy aanvanklik saam met alle verskillende
gelowiges geëet. Dit was alreeds ‘n groot opoffering,
want tradisioneel eet Jode nie saam met nie-Jode nie.
Petrus is eintlik besig om in die opsig ‘n sterk getuienis
uit te leef. Maar toe kom ‘n klompie Joodse gelowiges
uit Jerusalem ook in Antiogië aan. Petrus het toe skielik
net saam met die Joodse gelowiges begin eet!
Paulus het dit agtergekom. Want al die Joodse gelowiges,
Barnabas inkluis, het Petrus se voorbeeld gevolg.
Nou is dit nie net Petrus se getuienis wat in gedrang is
ten opsigte van nie-Joodse gelowiges nie, maar ook die
van die ander Jode! Groot skade! En dit oor die skynheilige
voorbeeld wat Petrus nou stel. Paulus spreek hom aan oor
hierdie skynheiligheid. Petrus is juis die een wat as sterk
leier wéét dat Christene nou vry is van mensgemaakte reëls,
en die wil van God doen! Nou hou hy skielik weer die reëls...
Ons moet baie versigtig wees vir skynheiligheid.
Dit het mooi vroom gelyk dat Petrus allerlei rituele nakom,
en betekenislose godsdienstige gebruike in stand hou.
Maar dit was leeg en skadelik. Al lyk dit goed vir die Jode.
Ons is self geneig om ons godsdienstige gebruike normatief
te maak. Ons wil dit selfs afdwing op ander Christene. Asof
ons gebruike alleen reg is.
Kom ons wees waarlik eg in die dien van die Here, en probeer
nie iemand, of myself tevrede te stel nie, maar die Here alleen
te dien. Soek eg na sy wil, en doen dit!
Dit is tog wat Petrus aanvanklik gedoen het saam met die
nie-Jode, voordat die Jode daar aangekom het! Wie wil ons
beïndruk of tevrede hou? Ons moet nie “people pleasers”
wees nie. Ons moet eenvoudig God se wil doen.
Eg! Opreg!
Ernest