Wat ‘n ongelooflike voorreg om te dink dat
die lewende Here self in my woon!
Dit is een van die wonderlikste dinge wat
gebeur het met die Here se koms na die wêreld!
Sy “aardse woning” is nie meer die tabernakel
en die tempel nie, maar nou my lewe!

Hy woon nie in die indrukwekkende St Pieterskerk in
Rome nie, of in die St Paul’s Cathedral in London nie.
Sy aardse tuiste is die hart en lewe van sy kinders!
Ons is nou tempels van die Heilige Gees!
Die geboue is dood. Ons lewe!

Paulus sê hieroor treffend in Galasiërs 2:20:
“...en nou is dit nie meer ek wat lewe nie,
maar Christus wat in my lewe.” Binne-in ons het
net ‘n hart van vlees en bloed geklop, ‘n hart wat
Jesus eiehandig kom verwyder het, en toe vervang
het deur ‘n splinternuwe hart wat vol liefde vir Hom
en ons medemens klop!

Ons het Christus se nuwe aardse adres geword
“..ek is saam met Christus gekruisig en nou is dit nie
meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe.”
Ons wat in Jesus glo, is saam met Hom Golgota toe.
Daar het ons volledig deel van sy kruisverhaal geword.
Sy lyding het ons sin geword. Sy opstanding het ons sin
geword.
Daarom kan ons nou as nuwe mense leef,
oorwinnend, deur Hom wat in ons leef!

Ernest