Hoe stiptelik moet ‘n mens die wet nakom?
Dit is ‘n vraag wat eenkeer aan ‘n Joodse rabbi gevra
is wat uit Jerusalem na Suid Afrika op besoek was.
“Hoe stiptelik moet ‘n mens die wet van God onderhou
om deur Hom verlos te word?”, was die volledige vraag.
Verrassend was die antwoord: “So een en vyftig persent.
Dit is voldoende.” Of die Rabbi gesaghebbend was,
is ‘n vraag. 50% is om gelyk te breek. 51% is om aan die
wenkant te wees. Seker oor God genadig is? Wie weet?
Hierdie Rabbi meen kennelik dat gehoorsaamheid aan
die wet, en God, soos boekhou werk. Vir elke goeie ding
wat jy doen kry jy ‘n regmerkie. Vir elke verkeerde ding
‘n kruisie. Jy moet sorg dat jy in die groen is, en nie in
die rooi nie.
Wat ‘n ewige stryd en onsekerheid! Om die wet te
onderhou om gered te word. Jou slaagsyfer vir redding
is dan berekenbaar...
Paulus het baie slegte nuus vir mense wat so dink,
en tog is dit goeie nuus vir elkeen wat die waarheid van
God aangryp! Die waarheid van Jesus se koms na die
wêreld, die kruis, en die opstanding!
Galasiërs 2:11 sê dat niemand op grond van die wet
deur God vrygespreek word nie, want “hy wat deur
God vrygespreek word omdat hy glo, sal lewe.”
Die slegte nuus vir wettiese godsdiens is dat jy op
geen manier jou pad na verlossing kan oopwerk of
verdien nie. Al hou jy die wet 90%! Dit is soos een vrot
eier in ‘n omelet. Die een eier maak die hele omelet vrot.
Ons “klein bietjie” sonde, in ons oë, maak ons hele lewe
vir God onaanvaarbaar. Hy het self gesê ons moet heilig
wees soos wat Hy heilig is. God se slaagsyfer is toe nie
51% nie, maar ‘n volle 100%!
Daarom moes Jesus na die wêreld kom. Kersfees.
Hy het aan God se standaarde kom voldoen in ons plek.
100% gehoorsaam, dra Hy onskuldig, plaasvervangend,
óns sonde aan die kruis. Glo in Jesus en hou aan Hom vas.
Vertrou Hom met jou hele lewe vir tyd en ewigheid.
Net Hy kon en hét aan God se 100% standaard kom
voldoen, namens ons! Hy het ons straf kom dra.
Deur geloof in Hom, het God ons vrygespreek!
Wanneer God nou na jou as Christen gelowige kyk,
sien Hy jou as regverdig voor Hom, in Christus,
wat vir jou die hoogste prys betaal het!
Jy is nou God se kind!
Ernest