Reeds in die geslagsregister van Jesus in
Matteus 1 sien ons hierdie belangrike
waarheid dat Jesus na die wêreld kom vir
die redding van alle mense!

Die meeste mense begin ongelukkig eers
Matteus lees vanaf vers 18. Hulle dink
‘n geslagsregister is vervelig en onnodig.
Wie stel nou belang in al die name?
Daar is regtig ‘n boodskap in al die name
van Jesus se geslagsregister!
Net in die name van die vier vroue in Jesus
se geslagsregister is reeds ‘n groot boodskap.
Tamar, Ragab, Rut en Batseba.

Hulle teenwoordigheid is eintlik skokkend.
Spesifiek vir daardie tyd! In Matteus se tyd het
slegs die mans se name in die geslagsregisters
gekom. Verseker nie vroue nie. Vroue was
tweedeklas burgers. Kan jy dit glo?
‘n Mindere spesie as die mans. Maar Jesus kom
wys die teendeel. Hy gee nie net ruimte aan
vroue nie, maar voor Hom is alle mense gelyk.

En meer nog, al het party van die vroue wat hier
genoem word ‘n slegte reputasie, hulle haal die
register! Tamar het ‘n lelike skande gepleeg,
volgens Genesis 38. Ragab was eens op ‘n tyd
‘n prostituut. Rut, die skoondogter van Naomi,
volgens Rut 1:4, was nie uit die Joodse volk nie.
Omtrent ‘n doodsonde vir die Jode...
En so ook Batseba, Dawid se vrou, volgens
2 Sam. 12:24. Sy was ook nie Joods nie!
Jesus se koms is dus ook universeel, vir alle volke!

Die geslagsregister sou alreeds sê dat hierdie Jesus
wat na die wêreld toe kom, anders is! Hy gee
dieselfde plek aan mans en vroue.
Hy bied plek vir sondaars aan sy voete.
Maak ook nie saak van watter afkoms hulle is nie!
Dit is ongelooflike goeie nuus vir die hele wêreld!
Die koms van Jesus! Kersfees!

Ernest