Wyse manne uit die Ooste kry die boodskap van
‘n belangrike nuwe Aankomeling in hierdie wêreld.
‘n Spesiale Kind wat in Israel gebore is. Daarom gaan
hulle na die stad van Dawid. Hulle wil uitvind waar
hulle Hom kan kry. Die godsdienstige hoofstad van
Israel behoort te weet.

Maar daar is ook slegte bedoelings betrokke wanneer
koning Herodes hierdie nuus hoor. Hy is gretig om die
Kindjie te ontmoet, maar met die verkeerde motiewe.
Sy motiewe is met bloed bevlek. Dit sou alreeds daarop
dui wat Jesus alles sou moes deurmaak ter wille van ons.
Hy wou alreeds vir Jesus doodmaak terwyl Jesus ‘n baba is!
In sy oë was daar nie plek vir nog ‘n koning nie.
Daarteenoor tree die wyse manne totaal anders op.
Hulle besef Hy is ‘n spesiale Aankomeling. Hulle bring
geskenke wat daardie tyd aan konings gegee is.
“Daarna het hulle hul reissakke oopgemaak en vir Hom
geskenke uitgehaal...”, Matteus 2:11. Goud. Wierook. Mirre.

Die realiteit van Jesus se teenwoordigheid ontlok vandag
nog steeds gemengde reaksie by mense. Party buig voor
Hom as die Koning van die heelal.
Ander se “geskenke” is spot en verwerping. Vandag nog,
en ook met hierdie Kersfees, sal miljoene mense hulle
rug op die evangelie draai. Hulle sal selfs hul bes doen om
die Goeie Nuus stil te maak.

Maar regoor die wêreld is ook steeds mense met ware
geskenke aan die Koning in hul reissakke. Hulle kom met
die oorgawe van hul lewe na Hom toe. Tot vandag toe,
en elke dag vorentoe, is jou lewe die beste geskenk wat
jy aan Jesus kan gee.
Eer Hom deur jou lewe aan sy voete neer te sit.

Ernest