Jesus is die enigste rede vir Kersfees!
Kolossense 2:2-3 sê ons moet saam strewe
na diep en volledige insig sodat ons God se
geheimenis kan ken... “Die geheimenis is Christus,
en in Hom is al die verborge skatte van wysheid
en kennis te vind.”

Paulus sou sê dat Jesus die geheim van Kersfees is!
Kerstyd is sinoniem met geskenke, Kersbome,
Kersmusiek, familie en vriende. Kersfees is bymekaar
wees tyd. Dit is die tyd van die jaar waar daar baie
welwillendheid ervaar word. Mense reik uit na mekaar.
Dit is asof alles afskaal sodat mense net weer tot
verhaal kan kom.

Die hartseer is egter dat Kersfees erg gekommersialiseerd
geraak het. Dit is asof die handelsmark dit in ‘n greep gekry
het om hulle produkte te bemark. Kersfees is nou vir die
oorgrote meerderheid ‘n wêreldse fees.
Christene hoef verseker nie Kersfees aan die wêreld uit te
verkoop nie! Ons kan Kersfees reg vier, en dit ook regtig vier!
Ons weet Jesus is die enigste rede vir Kersfees.
‘n Engelse Christen gesegde lui:
“Jesus is the only reason for the Season.”

Christene buig vandag nog in verwondering voor die Kind
in die Krip. Sonder trompetgeskal arriveer hierdie Koning
van die heelal. Sonder groot wêreldleiers om Hom te
verwelkom. En tog kom herskryf hierdie Kind in die Krip
die wêreldgeskiedenis vir altyd! Buig voor Hom. Vier sy fees!

Ernest