Dit is verstommend om te dink dat
“Hierdie Kind...” waarvan Jan De Wet so sing,
die wêreldgeskiedenis totaal sou kom verander!
Skielik het God se genade vir altyd voorop kom
staan. Jesus is die onteenseglike bewys daarvan.
Sigbaar tussen ons. Jesus Christus is God se
lewende genade in aksie! Hy is die bewys dat
God die wêreld onvoorwaardelik liefhet.

Die Christuskind is die hart van Kersfees.
By die Krip klop God se liefdeshart sigbaar!
God se grootste geskenk aan die wêreld!
Ook spesiaal aan jou!
Kersfees is net so ‘n totaal ander fees vir
mense wat Jesus navolg. Geen wonder nie dat
Paulus in Kolossense 2:6 sê:
“Aangesien julle dan Christus Jesus as Here
aangeneem het, moet julle in verbondenheid
met Hom lewe...”

Leef naby en saam met die Kind in die krip,
want Hy is die Here! Mense wat Jesus volg gaan
ook geskenke gee en vreugde ervaar tydens
hierdie Kersfees, maar meer as dit, veel meer as dit,
hulle gaan hulleself weggee.
Kerstyd is vir Jesus volgelinge ‘n tyd van deernis.
Hulle sien mense raak wat nie kos het nie,
wat stukkend en seer het, wat trane het.
Jesus volgelinge verander in hierdie tyd ‘n
donker wêreld deur hul lig te laat skyn.
Mense wat genadebrood uitdeel.
En bekers water om te drink.
En Lewende Brood ook.
Want Jesus is vir ons die hart van hierdie fees.
Sonder Hom is daar geen Kersfees nie.
Net leë kerspartytjies...

Ernest