Oor Jesus wat na die wêreld gekom het sê Paulus
in Kolossense 2:9: “In Hom is die volle wese van
God beliggaam…” In Hom sien ons God.

By ‘n Kerk is ‘n Kersspel opgevoer tydens die Kersgety.
‘n Klein seuntjie moes die herbergier speel wat vir
Josef en Maria moes sê daar is nie meer plek in die
herberg nie. Hy kon dit male sonder tal nie regkry
tydens die repitisies nie.

Die Sondagskool juffrou het voet by stuk gehou dat
hy vir “Josef en Maria” moes wegstuur.
Die aand tydens die opvoering het hy by die herberg
se deur gewag dat “Josef en Maria” moes kom aanklop
vir slaapplek. Toe hy die deur oopmaak het hy weer verstar.
Die juffrou het van agter die gordyn gehelp dat hy moes
sê die plek is vol. Toe hy begin praat het hy eenvoudig
gesê: “Die herberg is ongelukkig vanaand vol. Maar ek sal
my slaapkamer vir julle gee. Dan sal ek op die mat by my
ouers slaap.”

Natuurlik was die hele toneel ontwrig met mense wat
gelag het. Maar dit was uiteindelik een van die beste
opvoerings, want die mense het gesnap watter verskil
die koms van Jesus na die wêreld maak. Die seuntjie het
die mense laat besef wat die boodskap van Kersfees is.
Kersfees gaan oor Iemand wat omgee. God wat omgee.
God wat nie mense wegstuur omdat sy plek vol is nie.

Jesus is die een wat Kersfees met God se inhoud vul.
God gee om. Hy verander mense se harte om ook om te gee.
Hy maak dat ‘n kindjie dit nie oor sy hart kan kry om mense
wat nie slaapplek het nie, weg te wys. Dat hy sy eie kamer
wil afstaan om mense ‘n dak oor hulle koppe te gee...
Dit is wat ware Kersfees aan jou doen.

Ernest