Dit is eintlik sinneloos om te redeneer oor
dag en datum en dan verby die betekenis
van Jesus se geboorte te leef.
Jesus is nie op 25 Desember gebore nie.
Maar ons vier wel as Christene Jesus se koms
na die wêreld op 25 Desember.
Hoe het ons op hierdie datum uitgekom?
Die eerste Christene het besluit om die
einste dag waarop die songod se oorwinning
oor die donker gevier is, met splinternuwe
inhoud te vul. Johannes 1 sê immers dat
Jesus die ware lig is wat die duisternis kom
verdryf het! Verse 4-5 sê:
“In Hom was daar lewe, en dié lewe was
die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis,
die duisternis kon dit nie uitdoof nie.”
Oor Jesus se koms na die wêreld sê vers 9:
“Die ware lig wat elke mens verlig was aan
kom na die wêreld toe.” Praat van nuwe inhoud,
die ware Lig wat duisternis verdryf!
25 Desember het sedertdien die vieringsdag van
Jesus se koms na die wêreld geword.
Die betekenis is belangrik. Vandag is nie Jesus se
geboortedag nie, maar vandag is sy verlossingsdag
in ons visier! Juis op Kersdag! Daarom is dit vandag
feesdag. Die Lig skyn in die duisternis.
Vir ewig kan die Lig nie uitgedoof word nie.
Jesus is die lig wat elke mens verlig!
Wanneer ons vrolik en dankbaar geskenke uitdeel
en lekker eet, herinner ons mekaar aan die Here Jesus
wat die hoop en lig vir die wêreld is. Jesus se koms is
gelyk aan hoop! Satan word verslaan met Jesus se
koms na die wêreld. Redding breek aan op aarde!
Engele sing! “Eer aan God is die hoogste hemel,
en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n
welbehae het.” – Lukas 2:14.
Nou het die Lig opgegaan!
Duisternis en die dood is verslaan.
Buig voor die Koning van die heelal!
Ernest