Kersfees bring vaste hoop!
Hoe leef ons nou voort na nog ‘n Kersfees?
Die verhaal van Simeon en Anna in Lukas 2
bly ‘n mens by. Dit vertel van twee ouer
persone wat enduit met hoop gelewe het.
Simeon het die wet van die Here getrou uitgeleef.
Daarom het die Gees van die Here op ‘n dag vir
hom gewys dat hy nie sou sterf voor hy die
Messias sien nie! Wat ‘n droom en ‘n vooruitsig
om voor te leef!
Baie mense droom lankal nie meer nie.
Of hulle het nog nooit begin droom en lewe nie!
Hulle leef soos robotte van die een vaal dag na
die ander. Niks maak hierdie mense meer
opgewonde nie. In hulle lewe wen uitdrukkings
soos: “Ek het dit ook al probeer, dit werk nie.”
Wanneer jy vra hoe dit met hulle gaan?
“Kan nie, of het nie iets om oor te kla nie.”
Wil hulle dan kla? Intussen leef hulle al klaende!
Met Simeon, die ou man, was dit nie so nie!
Elke dag was vir hom vol nuwe moontlikhede!
Net dalk, sou hy daardie dag die Messias sien!
Ons kan ook enige dag die Messias sien!
Wederkoms! Jesus is elke dag komende.
Sterf, en jy kyk Hom in die oë! Opwindend!
Toe gebeur dit in Simeon se lewe!
Kan jy dink met watter hemelse vreugde die
Trooster, Heilige Gees, hom uitgenooi het na
die tempel toe! Daar aangekom vestig die
Heilige Gees Simeon se aandag op die Jesus Kind!
Simeon tel Hom in sy arms op! Sy droom het waar
geword. Die redding van die wêreld raak grond in
hierdie Kind.
Leef jy ook met so ‘n lewende verwagting om
Jesus deurgaans raak te loop in jou lewe?
Verwagting en hoop het ‘n Naam: Jesus!
Verskil is dat Hy jóú optel, in sý arms!
Die beste van jou lewe lê nog voor, want dit is
‘n lewe saam met Jesus!
Dit is immers een van die beloftes wat Jesus se
koms en sy Gees se uitstorting vergesel,
naamlik dat die ou mense weer drome sal droom,
en die jonges weer gesigte sal sien!
Lewe!...terwyl jy leef.
Ernest