‘n Studie het bevind dat mense wat vyf klein
dade van omgee, vir een dag per week,
oor ‘n tydperk van ses weke verrig het,
‘n dramatiese verhoging in hulle gevoel van
menswaardigheid en sinvolle lewe tot gevolg
gehad het. Klein dade soos om ‘n vriend te help,
iemand wat eensaam is te besoek, ‘n dankie
briefie te skryf.

Die wat dieselfde dade oor ‘n langer tydperk
versprei het, het nie dieselfde positiewe belewenis
gehad nie. Dit is interessant. Elke daad van
goeddoen wat volg op ‘n vorige daad van goeddoen,
het ‘n kumulatiewe effek. Dit bring ons as gelowiges
in die hoofstroom van God se genade handelinge.
God se wêreld is dié van deurlopende genade,
goed doen, en seëninge. God is daarop uit om
om te gee en te red.

God doen wat reg is. Hy wil sy nuwe wêreld wat in
Jesus aangebreek het, elke dag sigbaar laat deurbreek
in die lewens van mense. Mense wat Jesus volg en
aanhoudend doen wat Hy doen, is in die stroom van
God se genade aan’t leef en werk.
Die lewe is om in die vloei van God se goedheid te wees,
agter Hom aan te leef, en saam met Hom te dóén in
hierdie wêreld. Deur ‘n paar eenvoudige dade is ons
elke dag betrokke by wat God doen.
En Hy doen groot met ons eenvoudige dade!

‘n Daaglikse gebed vir ‘n familielid of vriend,
of iemand wat jy weet dit nodig het. ‘n Aanraking aan
iemand wat wys jy gee om. ‘n Slukkie water of ‘n sny
brood vir iemand wat honger en dors. ‘n Vriendelike
gebaar in druk verkeer, al is jy self laat.
‘n Opbouende geselsie in die ry by die bank met iemand
wat al warm onder die kraag is oor die lang tou en trae diens.

Jy kan deurgaans deur klein dade groot verskil in mense
se lewens maak. Doen dit net!

Ernest