Ons is nog steeds in die Kersgety. Ons sien en
hoor nog baie daarvan in die dae na Kersfees.
Die vraag is of ons regtig ‘n diep belewenis
het van wat regtig gebeur het met Kersfees,
of het dit nou oorgewaai?
Watter verskil gaan dit aan ons lewe maak
wat voorlê? Het jy dieper gegroei in jou
verhouding met die Here?
Ons lewe in ‘n wêreld wat Kersfees se betekenis en
diepte kan toe-smoor as ons dit in ons lewe toelaat.
Dit gaan so erg rondom ons dat ons wonder of
Kersfees ‘n verskil maak?
In hierdie verband is Jeremia 31 ‘n klassieke teks.
Te midde van die moeilikste omstandighede vertel
dit van God se goedheid wat hy loslaat op sy mense.
God vergeet nie van sy mense nie. Jeremia self beleef
hierin dat hy in die hart van God se goedheid is.
Hy het die Here se genade gehoor, gesien en geproe.
Jeremia se eie behoeftes en sorge en gevoelens het
agter die grootheid van God verdwyn.
Mag ons ook in hierdie Kerstyd hierdie diepte beleef.
Daar is sulke spesiale geleenthede in ons geloofslewe
nodig waar ons ‘n diep belewenis van God het.
Heilige oomblikke waar ons in verwondering voor God is.
Mag hierdie tyd jou so versterk met die oog op jou
toekoms saam met God.
Mag Kersfees 2018 en die gevolg daarvan jou
gefokus hou op God.
Ernest