Gedurende hierdie feesseisoen beleef ons
baie welwillendheid en vreugde.
Mense kuier lekker saam en geniet die lewe.
Ons ervaar by baie mense meer van ‘n vreugde.
Die Here wil juis hê ons moet op sy oorvloedige
blydskap en vrede fokus. God het immers Jesus
na die wêreld gestuur, en dit is wat Hy bring.
Ons het eindelose redes om bly te wees. Dink net:
Die Here ken jou op die naam. Ons is deur die
Heilige Gees vervul. Ons is vir altyd veilig in die
palm van God se hand. Ons is geroep en bemagtig
om bekendmakers te wees van God se koninkryk.
Die Here is die Eregas en Gasheer by elke ete en
elke gesprek waar ons kuier. Ons is sy geliefdes.
Ons is sy uitverkorenes wat hoop en vreugde uitstraal.
Ons het soveel rede om opgeruimd te wees en te lag,
al moet ons ook soms hartseer trane afvee.
Ons kan dans, al verlang of rou ons ook.
Daar is egter ook mense wat bly dink die wêreld skuld
hulle alles. “They seem to carry their religion as a man
carries a headache”. Ons moenie met ‘n godsdienstige
kopseer rondloop en mense hul vreugde misgun nie.
Om ernstig te wees oor die Here, beteken nie om
geestelik ‘n suurpruim te wees nie.
Ons moet leef vanuit die realiteit dat die Here die
wêreld en elkeen van ons kom nuut maak vanuit
hemelse perspektief. Ons moet diensbaar leef,
liefdevol en vol vreugde. Iemand sê “ons moet die
Here se suurstof afgee.” In ons teenwoordigheid
moet mense groei en gedy. Ons moet nie mense
geestelik inhibeer met “godsdiens” nie. Ons moet
magneties lewe en mense na die Here toe trek.
Gee veral in hierdie tyd perspektief oor Wie die Here is,
wat aarde toe gekom het. Ons moet die Here se
genade-weerkaatsers wees. Dra die blydskap van die
Here in jou hart rond, en leef geesdriftig vir Hom.
Heilige Gees-geesdriftig! Romeine 12:11:
“Moenie in julle toewyding verslap nie,
bly altyd geesdriftig, dien die Here.”
Ernest