Hier op oujaar kyk ons gewoonlik terug op
die jaar wat verby is. Dit was weereens ‘n
vinnige jaar! Al vinniger en vinniger beweeg
ons vorentoe. Die vraag is waarheen?
Of na wie toe? Ons sou dit graag met ‘n
hoofletter wou vra: Na Wie toe?
Het ons in hierdie jaar nader aan die Here gegroei?
Die vraag is nie of ons meer ondervinding opgedoen
het of meer kennis bymekaar gemaak het nie. Die
vraag is of ons gegroei het in die wysheid van die Here?

Vandag verlang ons ook meer. Heimwee omring ons.
Het ek hierdie jaar al my kanse benut? Het ek al my
nuwejaarsbesluite van ‘n jaar gelede gestand gedoen?
Was dit waarop ek tyd en energie spandeer het die
moeite werd?

Wat vra die Here vandag, aan die einde van die jaar?
Ons sou baie dinge kon noem. Was ek hierdie jaar ‘n
sagter mens? Het ek meer omgegee vir mense om my?
Het ek ‘n oper hand gehad vir mense in nood? Was my
tong meer met silwer beslaan en minder met vuur?
Het ek meer getrou gebid? Het ek God beter leer ken
en liefkry uit sy Woord? Het my vriendskap ander mense
verryk? Was ek ‘n naaste vir mense wat onderstebo
geloop is deur die lewe?

Het ek regtig die lewe wat die Here my gee geniet?
Die asem!? Die kloppende hart? Die polsende bloed?
Het ek die jaar geniet en baie gelag? Het ek moeite
gedoen om die son behoorlik te sien opkom? Het ek
gehoor hoe sorgvry kinders lag en speel? Het ek ‘n paar
keer ervaar hoe die Here se boodskap in die kerk net
vir my was? Sy nabyheid in my lewe?

Sê vandag dankie. Sê dankie vir die mense wat jou lewe
verryk. Sê bo alles dankie na Bo. Dankie Here!
Kolossense 2:10 sê so treffend:
“...in verbondenheid met Hom deel julle in sy volheid.”

Ernest