Vandag, en in die dae wat voorlê, gaan ons
baie mense ‘n voorspoedige Nuwejaar toewens.
Selfs banke en klerewinkels doen dit met
‘n algemene SMS.
Maar het ons mekaar al ‘n paar weke later gebel
en gevra of dit gebeur het wat ons mekaar
toegewens het. Geseënde Kersfees.
Voorspoedige Nuwejaar. Of selfs later in die jaar
opgevolg.

Hoe eg het ons die beste wense en seën bedoel?
“Het jy toe die Christus-Kind se ware vrede ontdek,
beleef, en gevind?” Het jy laat weet jy bid steeds vir
die beste wense wat jy iemand toegewens het?
Wanneer iemand wat vir jou gekuier het,
soos jou kinders, terugreis na hulle woonplek,
dan sê jy hulle moet mooi en veilig ry. Later vra jy
of hulle veilig is. Of hulle SMS dat hulle veilig is.
Die goeie wense word opgevolg met die regte dade.
Dade wat wys jy bedoel dit en gee om.

Tog doen ons dit nie wanneer ons iemand
lewensveranderende dinge toewens nie, dinge soos:
“Mag al jou drome in die Nuwejaar waar word.”
Dit is nie verkeerd of skynheilig om mekaar mooi dinge
toe te wens nie. Maar as navolgers van die Here moet
ons dit ernstig genoeg bedoel om dit ook op te volg.

So sê ons ook dikwels: “Ek sal vir jou bid.”
Bedoel jy dit ernstig? Gaan bid jy regtig vir die persoon?
Volg jy dit op om te hoor wat intussen gebeur het,
en hoe jy verder kan bid? Dan is ons fokus op meer as net
goeie wense. Dan is ons ook meer daarop gefokus om juis
daarvoor te bid. Dan groei ook ons geloof saam met die
wat ons die goeie wense toewens, omdat ons die
verwagting daarvan uitleef en navolg.

Ernest