Kom ons pak doelbewus die nuwe jaar aan
as navolgers van Christus!
Paulus was baie bekommerd oor die verskriklike
godsdienstigheid van die gelowiges in Kolosse.
Hulle was erg vroom en wetties in hul godsdiens.
Hulle het die strengste reëls denkbaar gehou.
“Hieraan mag jy nie vat nie” en “daaraan mag jy
nie raak nie.” Dit was bekende uitsprake in hul
godsdiens. Ten spyte van al hulle vroom gebruike,
was Paulus nie beïndruk nie. Dit gaan nie oor
kerkbywoning en die hou van allerhande
godsdienstige reëls nie.

Tog het baie van hierdie gelowiges dit bedoel om
regtig goed te leef. Hulle steel nie. Skei nie.
Pleeg nie moord nie. Praat nie lelik nie. Hulle doen
ook goeie dinge aan ander!
Wél, selfs nie eers dit kan jou red nie. Dit maak jou
nie outomaties ‘n volgeling van Jesus nie.
Godsdiens kan daarom bitter gevaarlik wees!
Jy kan dood-goed lewe, maar sonder God.
Godsdienstig, maar sonder God.

Die enigste weg is om deur Jesus jou toevlug tot God
te neem en Hom alleen te vertrou met jou hele lewe.
Jesus alleen is die weg, en die waarheid, en die lewe.
Niemand kom na die Vader toe nie, behalwe deur Hom!
So, en so alleen word ons gered en is ons by die Vader.
Dan dien ons God, en is ons nie besig met godsdiens
as ‘n middel tot ‘n doel nie.
God deel oorvloedige genade uit aan mense wat aan
sy voete kom sit.

In hierdie nuwe jaar moet ons vir God en saam met
God leef. Ons moet seker maak dat ons nie gaan besig
wees met ‘n leë godsdiens nie. Ons moet luister na wat
Paulus vir die mense in Kolosse sê in Kolossense 2:20:
“Julle het saam met Christus gesterwe en is dus dood
vir die wettiese godsdienstige reëls van hierdie wêreld.”

Ernest