Hoe kan ons God dien, en nie net besig wees
met godsdiens nie. Ons het gesien ons enigste
redding lê in Jesus Christus wat die weg is,
en die waarheid, en die lewe. Niemand kom
na die Vader toe nie, behalwe deur Jesus.

Paulus gee nou ook praktiese raad aan die
Kolossense om doelbewus as ‘n kind van die
Here te leef. Hy skryf in hoofstuk 3:2:
“Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is...”
Rig jou gedagtes 24/7 op die Here. Jou gedagtes
moet weg van jouself en jou belange gerig word.

Ons moet die Heilige Gees toelaat om ons manier
van dink te verander. Ons moet ook aktief saam
met die Heilige Gees meewerk aan hierdie proses.
Hoe doen ons dit? Deur ons gedagtes doelbewus
na Jesus Christus toe te verskuif. Dit klink nog
steeds moeilik...

Die vraag is hoe graag wil ons op Jesus gefokus lewe?
Prakties beteken dit dat ons onsself daarin moet
oefen om nie net te fokus op onsself nie. Ons eie
selfsugtige behoeftes nie. Of net ons eie probleme nie.
Ons eie nood, vrese of begeertes nie. Die eerste stap is
om baie minder selfgerig te wees, en daarin te bly
groei en groei deur die Gees.

Die Heilige Gees wil ons op God rig, op Jesus. Hy wil ons
laat weg-leef van onsself af, en ons rig op die Here se
koninkryk. Hy wil ons besig maak met die Here se dinge.
Elkeen moet in sy eie konteks en omstandighede
praktiese doelwitte stel wat jou op die Here sal rig.
“Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is...”

Dit sal dinge wees soos om tyd saam met die Here te
spandeer in sy Woord. Om gebedstyd te maak. Om ook
deur die loop van die dag deurgaans met die Here te
praat oor mense en dinge wat jy waarneem.
Wat is sy wil daarmee? Ons moet doelbewus nie een dag
deur ons vingers laat glip om vir die Here te leef nie.
Dit is om die nuwe lewe in die Here te lééf!

Ernest