Paulus help ons nog verder om op God
gefokus te leef. Om doelbewus 24/7 elke dag
van jou lewe vir God te leef. Die Heilige Gees
wat in ons woon help ons hiermee.
Eintlik doen die Gees alles! Ons moet net
gehoorsaam aan die Gees lewe.

Paulus sê hierdie baie belangrike ding in
Kolossense 3:17: “En wat julle ookal sê of doen,
sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus...”
In vers 23 sê hy ook verder: “Wat julle ookal doen,
doen dit van harte soos vir die Here en nie vir
mense nie...”

Omdat ons selfgerig is fokus ons op die dinge wat
onsself raak. Ons sal byvoorbeeld deurgaans probeer
om pyn te vermy en geluk te ervaar. Om op God en
sy koninkryk gerig te wees bring die vreugde om
dinge te doen wat God wil hê, en wat ander mense
se lewens verryk en opbou. Dit is die sterkste
dryfveer in die lewe van ‘n Christen. God het daardie
dryfveer in ons ingebou. Die liefde van Christus
dring ons! Daarom word ons gevul met innerlike
vrede wanneer ons doen wat God sê.

Hoe meer jy God-welgevallige gedagtes dink,
hoe meer sal jou denke oorloop na jou hande en voete.
Jou gedagtes sal dan dade word, die soort dade wat
die Here eer. Jou geloof sal by die dag groei.
So konsentreer ons dan meer en meer op oorwinnende
gedagtes en dade, en nie op geestelike nederlae nie.
Hoe meer jou lewe in hierdie nuwe jaar in pas kom
met wat God vra, hoe meer sal jy bewus wees van
oorwinnings wat jy in sy Naam behaal!

Ernest