Die nuwe jaar sal sy uitdagings bring.
Ons dink te veel in terme van probleme,
in plaas daarvan om dit as uitdagings te sien.
Volhard in die jaar wat voorlê om voluit vir
die Here te leef en elke uitdaging in sy Naam
en tot sy eer aan te pak en te oorwin.

Hoe kan ons dit veral prakties doen?
Kolossense 4:2 gee die heel beste raad:
“Volhard in gebed!” Sukses vra harde werk.
Ook ons verhouding met die Here vra tyd
en aandag en harde werk. Ons moet dikwels
in gebed “stoei” met die Here soos ‘n Jakob.
Daar is nie kortpaadjies nie. Om te volhard in
gebed vra ook dissipline. Vasbyt, doelgerigtheid.

‘n Lewe waar God verheerlik word, vra baie
deursettingsvermoë. Sonder geestelike stamina
kan ons in middelmatigheid verval.
Dan val jy oor elke nuwe sonde wat oor jou pad
kom, en jy bly stoei met dinge in jou lewe omdat
jy nie in oorgawe aan die Here en volhardende
gebed oorwinning kry nie.

Paulus weet hoe noodsaaklik geestelike oefening is.
Die beste geestelike oefening is deur aan te hou
met bid. Gebed verander jou in iemand wat geestelik
fiks genoeg is om uitdagings te oorkom.
Geestelike fiksheid laat jou iets veel eerder sien as
‘n uitdaging, as wat jy dit sien as ‘n probleem.
Wanneer jy weet met watter doel jy jou geestelik
inspan in die Here se diens, is jy baie meer gemotiveerd
om jou doel te bereik. Die oplossing is geestelike vasbyt.

Paulus noem dit: Volhard in gebed!
Is jy moedeloos? Bid dan daarvoor! Is jy geestelik uitgeput?
Oplossing: Bid dit uit die pad uit! Is die kerk of jou gemeente
te dood na jou sin? Bid daaroor. Gebeur daar nie meer
wonderwerke in jou lewe nie? Dink jy regtig so...?
Bid daarvoor! Soek die aangesig van die Here totdat Hy jou
in genade aansien!
Die heel belangrikste werk wat jy vir die Here kan doen?
Bid!

Ernest