Identifiseer die uitdagings in jou lewe wat
jou fokus van God af wegneem.
Ons is geroep, en die Heilige Gees wil ons
ook toerus, om in elke situasie ons fokus
op God te hou. Dit is maklik as ek Bybel lees
of na ‘n opbouende boodskap sit en luister.
Dit is baie moeiliker in die daaglikse lewe waar
party mense die vermoë het om die slegste uit
my te haal.
Kyk net hoe maklik verander my goeie
voornemings wanneer ek agter die stuurwiel van
my voertuig inklim. Iemand wat verby my jaag
word ‘n maniak. Iemand wat te stadig voor my ry
word ‘n idioot. Ek begin dink en praat soos ek glad
nie wil nie. Hoekom is dit so met ons? Wat maak
dit van ons? Om een of ander rede stroop die verkeer
op die pad ons in ‘n oogwink van enige vroom
voornemings. Dit verskuif ons fokus onnodig van
God af weg! Praktiese daaglikse uitdagings!
Daarom moet ek gefokus bly en my hart oppas in
hierdie daaglikse uitdagings wat oor my pad kom.
Die geheim is om doelbewus dadelik met die Here
daaroor te praat, en ín die situasie te herfokus op
sy wil! Ek moet onmiddelik in Jesus se Naam
oorwinning daaroor kry. Ek moet hierdie strategie
oor en oor herhaal totdat dit ‘n leefwyse is.
So kan ons oorwinnend lewe oor hierdie daaglikse
uitdagings in ons lewe wat ons so maklik laat struikel.
Kyk op na God! Ons oorwinning en vrede en hoop
setel in Hom. Prakties in elke situasie! Ek lewe voltyds
vir Hom, waar ek ookal is, ook agter die stuurwiel van
my voertuig. So prakties is dit. Dit maak die lewe met
al sy onverwagse snelballe en draaiballe wat na my
geboul word steeds ‘n lewe van oorwinning in die
Here se Naam, en in sy krag alleen!
Ernest