God se krag is reddingskrag. Paulus sê in
Romeine 1:16: “Ek skaam my nie oor die
evangelie nie, want dit is ‘n krag van God
tot redding van elkeen wat glo...”

God is nie net sterk nie. God is almagtig!
Hy besit letterlik alle mag. Maar Hy wend
sy krag Goddelik aan. God gebruik sy krag
by uitstek om te red. Nie om te straf en
seer te maak nie. God se krag is genadekrag,
reddingskrag! Hierdie krag van God bring Hy
self na die wêreld om mense se lewens
radikaal te verander.

Die redding is vir almal op aarde bedoel.
Paulus is glad nie skaam om vir God te werk nie,
en doen dit met oorgawe omdat hy die voorreg
besef dat hy ‘n kanaal van God se reddingskrag is.
Hy word iemand deur wie God se krag vloei,
en dit verander mense. Hy dra dit onbeskaamd
met hom saam oral waar hy leef en beweeg.

Self is Paulus geheel en al kragteloos. Hy besef dat
hy in homself nie ‘n enkele greintjie geestelike krag
besit nie. Alles kom van God af!
Maar hy is ingeskakel by die kragbron. Ons is ook
as kinders van die Here ingeskakel by hierdie
Bron van krag, God self.
Moenie skaam wees om hierdie krag tot eer van
God aan te wend nie. Sê en leef dit uit saam met
Paulus: “Ek skaam my nie oor die evangelie nie...”
Laat die reddingskrag van God ook deur jou vloei
na almal toe met wie jy te doen het.

Ernest