God se krag ontbrand ook in woede!
In Romeine 1:18 sê Paulus: “God openbaar
vanuit die hemel sy toorn...”
God ontbrand sy heilige toorn! Nie omdat dit
in die eerste plek sy aard is nie, maar omrede
al die gemors wat die mens aanvang.
God openbaar sy goedheid aan die mens met
die skepping. Hy skep selfs die mens na sy beeld.
Maar wat doen die mens? In plaas daarvan om
God in dankbaarheid te dien, draai die mens sy
rug op God. “Dankie, maar nee dankie.”
Die mens maak sommer self sy eie gode voor wie
die mens buig. Dooie gode. Die mens word sy eie
afgod. Hy sal self gode maak wat hom pas en
waarvoor hy buig soos hy wil.
Dit laat God se heilige toorn ontvlam. God se toorn
gaan oor sy eer en sy Naam. Mense besluit daarteen
om met God te wandel.
Wat doen God? Hy gee die mens oor aan homself!
Nie minder nie as drie maal sê Paulus dit.
Kyk net hoe sterk sê Vers 23 wat die mens doen:
“In die plek van die heerlikheid van die onverganklike
God stel hulle beelde...” Kan jy dit glo dat ons as
mense beelde kon kies wat ons self maak, “in die plek
van die heerlikheid van die onverganklike God...”!
Die eerste vers wat sê dat God daarom die mens aan
homself oorgee is vers 24: “Daarom gee God hulle aan
die drange van hulle hart oor...”
Die tweede vers wat dit sê is vers 26: “Daarom gee God
hulle oor aan skandelike drifte...”
Die derde vers wat dit sê is vers 28: “En omdat hulle dit
van geen belang ag om God te ken nie, gee Hy hulle oor
aan hulle verdraaide opvattings...”
Die ergste wat eintlik met die mens kan gebeur is dat
God ons aan onsself oorgee! Dat God aan mense die
“vryheid” gee om te doen wat hulle wil, te sê wat hulle
wil, en te dink wat hulle wil. Hy gee mense wat Hom nie
wil dien nie volledig oor aan hulle eie siek idees en sonde.
Hy laat hulle “vry” wees om hulle sonde na hartelus te pleeg.
Hulle is nou volledig aan bestuur van hulle eie groot gemors
waaruit hulle nooit ooit hulleself kan verlos nie.
Die resultaat van mense se “vryheid” is skrikwekkend!
Die Bybel sê ons moet wakker skrik uit hierdie sogenaamde
vryheid en voor God buig wat ons in Jesus waarlik vry maak!
In watter vryheid leef jy uit?
Ernest