Baie mense dink dat hulle om een of ander
rede nou klaar in God se guns is. Hulle voorouers,
of hulle eie ouers het die Here gedien, so hulle is
ook gered, en Christene. Hulle was half teen hulle
sin vir ‘n tyd deel van ‘n geloofsgemeenskap omdat
hulle immers saam met hul ouers kerk toe gegaan het.
Maar genoeg is genoeg. Hulle wil nou leef soos hulle
graag wil.
Die Jode het ook so gedink. Hulle het gedink
hulle staan voor in die ry oor hulle afkoms.
God het dan so baie vir hulle gedoen: Hy het hulle uit
Egipte uit slawerny gelei. Hy het sy wet aan húlle gegee
by Sinai. Hy het Sion, Jerusalem, aan hulle gegee, en nog
die tempel daarby! En nog baie ander wonders vir hulle
gedoen! Geen wonder nie dat hulle dink hulle is God se
uitverkorenes en neersien op ander volke. ‘n Nie-Jood
is ‘n heiden, volgens hulle.
Paulus het vir hulle skokkende nuus in die Nuwe Testament!
Hy sê in Romeine 2:11: “God trek immers niemand voor nie.”
Maar ook vir ons wat om die een of ander rede dink ons
staan voor rond in die ry, oor ons afkoms, of voorouers se
dien van die Here…of wat ookal.
God kyk na elke mens se hart en sy verhouding met die
Here Jesus. Hy kyk of ons gehoorsaam aan Hom leef en sy
wil van harte wil doen.
Daarom het Jesus self in Matteus 7:21 gesê:
“Nie elkeen wat vir My sê: “Here, Here” sal in die koninkryk
van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van
my Vader wat in die hemel is.”
God sit egter nie reg om ons te straf as ons sonde doen nie.
Hy wil dat ons met vrymoedigheid na Hom toe gaan om dit
uit te maak. Daarin kry ons dan juis die krag om weer saam
met Hom te leef en die wil van ons Vader in die hemel te doen.
God sien ons harte en ons dade. Met watter oortuiging staan
jy voor die Here? Waarin lê jou sekerheid van verlossing?
Dit kan nooit lê in jouself, of jou afkoms, of iets wat jy kan
doen nie. Dit kan net in die sekerheid lê wat God doen in jou
lewe in Jesus Christus. Is Hy waarlik jou Verlosser en Here?
Ernest