Ons weet die Woord van God waarsku ons
voortdurend om nie sonde te doen nie.
Maar om die een of ander rede neem ons
gereeld afdraai paaie. Kyk net hoe eenvoudig
waarsku Johannes ons in 1 Johannes 2:1:
“Julle moet nooit iets doen waarvan God
nie hou nie.”

Vandat ons kan hoor, weet ons dit al.
Ons ouers en ander mense in ons lewe het
dit oor en oor aan ons herhaal en verduidelik.
By die kerk is ons bepreek hieroor. Ons weet
dit, en ons doen ons bes om nie te doen wat
God nie wil hê ons moet doen nie.
Hoekom sukkel ons so om dit reg te kry?
Dit frustreer ons, soos dit ook vir Paulus
frustreer het. Maar God kom ons te hulp!

Johannes gaan verder en sê in verse 1-2:
“As een van ons egter wel so ‘n fout maak,
kan ons daarvan seker wees: ons het Iemand
wat ons op ‘n baie besondere manier sal help.
Hy sal vir ons gaan mooipraat by ons hemelse
Vader. Ek praat natuurlik van Jesus Christus.
Hy is die ideale Een om dit te doen, want die
verhouding tussen Hom en die Vader is baie
goed. Omdat Jesus dit vra, sal die Vader ons
sondes oorsien.”

Ons ontvang meer as net vergifnis.
Ons ontvang ook die Heilige Gees,
die Helper om ons te help!
Dit is bo ons begrip om te dink dat ons wat
dikwels so droogmaak in genade van God
vergifnis en die Gees ontvang as Helper!
Ons moet inderdaad nou gehoorsaam aan
die Gees gaan lewe!
Hoe goed weet ons dit nie! Kom ons gaan
doen nou soos die Gees ons lei. Kom ons
geniet die lewe en leef dit reg!
Ons leef uit die vergifnis van God,
met die Heilige Gees in ons!

Ernest