Ons weet hoeveel beloftes word in hierdie
wêreld gemaak wat nie nagekom word nie.
Mense maak beloftes in die werksomgewing.
Mense maak beloftes ten opsigte van die
afbetaling van skuld. Mense maak beloftes
dat hulle na jou tuin sal kyk as jy op verlof is.
Mense maak beloftes dat hulle jou sal terugbel.
Of jou op ‘n plek sal ontmoet.
En so kan ons aangaan...

Dan kom hulle nie die beloftes na nie.
Ons praat dikwels van “ja-broers.”
Die ergste van alles is dat dit dikwels mense is wat
met die Bybel onder die arm in jou kantoor inkom.

Mense maak ook beloftes ten opsigte van die Here
en hulle verhouding met Hom.
Daaroor sê 1 Johannes 2:4: “Daarteenoor is iemand
wat beweer: “Ek ken Hom baie goed”, maar nie
doen wat Jesus vra nie, natuurlik ‘n leuenaar.
So iemand kan nie eers “waarheid” spel nie.
Dit is ‘n kostelike vertaling in Die Boodskap.
Maar dit is so! Dit is hoe ja-broers se beloftes werk.

Ons moet versigtig wees om met groot bravade vir
almal te sê dat ons Jesus goed ken, dat Jesus
wonderlik goed is, en watter wonderwerke God
in ons lewe doen, maar ons dade wys in die
teenoorgestelde rigting! Ons moet net so min vinger
wys na ander wat dit doen, terwyl ons dit self doen!

Die vraag is of mense in my lewe kan raaksien waaroor
en waarvan ek praat in my verhouding met die Here.
Kan hulle veral vir Jesus in my lewe sien as dinge glad
nie loop soos ek dit beplan het nie? Hoe praat ek
wanneer ek moeg is? Soos ‘n Jesus volgeling?

Sou die volgende paar verse in 1 Johannes 2:5-6
‘n opsomming van my lewe wees?
“Die liefde wat God gee, blom en bloei juis in hom wat
gehoorsaam luister na wat Jesus wil hê. Ons moet elke
dag daarvan werk maak om presies so te leef soos Jesus
geleef het. So kan ons seker wees dat ons deel van God
se familie is en bly.” Ons moet God se liefde oral laat
grondvat. Dan sien mense God en weet Hy is teenwoordig.

Met hierdie verse bring Johannes vir ons almal by ‘n groot
kruising in ons lewe. Moenie net uit die boodskap “click”
of dit “delete” nie. Moenie onveranderd van hierdie verse
af wegloop nie. Gaan kyk na die dade in jou lewe in die
afgelope tyd. Ons moet dade agter ons tong sit.
Hande en voete. Doen en leef wat jy sê en bely!

Ernest