Ons praat so mooi en ons verstaan so mooi
van die dinge van Christen-wees. Wanneer
ons egter met ‘n vergrootglas gaan kyk,
sien ons dinge wat nie presies pas by wat ons
as Christene praat en bely oor Jesus nie.
Neem maar net die voorbeeld van ‘n verkeerslig.
Hoe benader ons dit? Wanneer die lig geel slaan
is dit nie die lig wat bepaal of ek gaan stop nie,
maar of daar ‘n kamera is of nie. Ek gee in elk geval
vet om dit nog te maak. En omdat nóg twee of drie
motors ná my gaan oorry, kan ek nie stop nie!
Dit is nog meer skokkend om te sien hoeveel geel
ligte ek nie maak nie, en dan maar oor die rooies glip.
Dit is tog verkeerd. Dit is nie hoe ‘n Christen moet
optree nie. Wanneer motors van weerskante af die
ligte “steel”, dink net aan die gevolge! Ons is besig
om met vuur te speel.
Hoeveel meer praktiese voorbeelde kan ons nie
opnoem nie. Hoekom doen ons nie wat die Here se
wil is nie? Ons weet wat sy wil is!
Daarom sê 1 Johannes 2:6: “Ons moet dus nie net
praat oor wat Hy wil hê nie. Ons moet elke dag
daarvan werk maak om presies so te leef soos Jesus
geleef het. So kan ons seker wees dat ons deel van
God se familie is en bly.”
Die werkwoord is so duidelik in hierdie vertaling:
“werk maak”. Ons moet elke dag daarvan werk maak
om presies so te leef soos Jesus geleef het. Ons moet
onsself nie bluf nie.
Om soos Jesus te leef kom nie vanself nie. Ons natuur
beur weg daarvan. Daarom moet ons doelbewus teen
die verkeerde dade kies en vir Jesus se wil kies,
en dit doen!
Kort-kort oor die geel lig beteken ek leef op die grense
en strek dit sover ek kan. Daarom is ek meer as dikwels
oor die rooi lig.
Nou is dit ook so in my lewe vir die Here. In plaas van
voluit vir Hom te leef, probeer ek die grense rek.
Ons moet gaan kyk wat ons glo en bely. Ons moet nie
probeer om met die minste weg te kom nie.
Daarom moet ons daarvan werk maak om te doen wat
die Here wil hê ons moet doen. Om voluit vir die Here
te leef is om weg te leef van die grense af,
na die kern van sy wil toe!
Ernest