Ons leef dikwels te midde van baie onsekerheid.
Ons klim dikwels in die aand ontnugter in die bed
en slaap nie lekker nie. Ons soek dikwels na meer
rustigheid en sekerheid. Ons staan dikwels voor
on-beantwoorde vrae en weet nie watter kant toe
ons moet draai in die kruisings van die lewe nie.
Daar is nie goue reëls of ‘n “quick fix” vir elke
probleem nie.
Ons moet opkyk vir raad. Dit is soos om vasgevang
te wees in digte mis. Jy kan byna nie jou hand voor
jou oog sien nie, maar as jy opkyk sien jy die groot
ronde son soos ‘n bal in die mis. So moet ons opkyk
uit die onsekerheid van die wêreld waarin ons is.
1 Johannes 2:9 sê: “Kyk mooi! God se ware lig skyn
reeds helder. En wat van die duisternis? Wel, dit is
vinnig aan die verdwyn.” Dit beteken nie dat ons
alles nou vergeestelik en nie bekommerd is nie.
God laat nie al ons aardse werklikheid en moeilikhede
soos mis voor die son verdwyn nie.
God is almagtig en kan enige iets doen. Dit is egter
onsself wat toelaat dat die donker om ons toevou.
Ons weet God is die Lig. Vraag is: Hoe laat ons dikwels
toe dat die donker om ons toevou? Waar kom die lig
vandaan en waar word die donker “gemaak”?
Vers 11 praat hieroor: “Die persoon wat niks omgee vir
sy medemens nie – al is sy woorde hoe godsdienstig
en vroom – leef steeds in die duisternis. Hy is soos
iemand wat in die donker voortstrompel. Hy het geen
idee waarheen hy op pad is of waar hy gaan uitkom nie.
Omdat dit so donker is, loop hy soos ‘n blinde man rond.”
Dit is Jesus se liefde wat lig bring. Wanneer jy die liefde
onttrek en dit nie deel maak van jou lewe nie, gaan die
lig dood en neem die duisternis oor.
Hoe dik is die straal lig wat ek uitstraal na die mense
rondom my? Help ek om duisternis te kweek, of om dit
te verdryf? Godsdiens, of ons verhouding met God sit
nie net in ons kop nie. Ons God is ‘n God wat aktief
betrokke is in die wêreld rondom ons. Hy doen dit ook
deur ons! Ons moet die Here se lig laat skyn en duisternis
in die wêreld saam met Hom laat verdwyn. Deur liefde
uit ons harte, en met ons monde, hande en voete.
Hiermee weerkaats ons die lig van die Here,
in die krag van die Here.
Vers 11 sê dit duidelik: “Daarteenoor leef die persoon
wat sy broer of suster liefhet, voortdurend in die lig.
Juis daarom struikel hy ook nie sommer nie.”
Ons weet, dit is nie so maklik in praktyk nie...
Dit is nie maklik as mense jou sleg behandel of inloop nie.
Ons wil dan ook so reageer. Ons wil hulle behandel soos
hulle ons behandel. Dit is nie wat God wil hê nie.
Ons moet duisternis verdryf met God se lig.
Liefde!
Ernest