Wanneer jy ‘n brief vir iemand skryf het jy
‘n prentjie in jou kop van die persoon of mense
vir wie jy skryf. Dit is merkwaardig hoe Johannes
se prentjie lyk van die Christene van Rome vir
wie hy skryf.
Kyk net wat skryf hy van 1 Johannes 2:13 af:
“Pa’s, julle ken Hom wat alles begin het goed.
Daarom is hierdie brief vir julle. Die jongmense
kan ook lees wat ek skryf, want hulle het die Bose
behoorlik op die neus laat kyk.”
Vers 14 gaan verder: “Ek het vir julle my hand op
papier gesit, kinders, omdat julle die Vader
persoonlik ken; en pa’s, omdat julle Hom ken wat
die oorsprong van alles is. Jongmense, ek het vir
julle geskryf omdat julle innerlik so sterk is.
Julle seëvier altyd in die stryd teen Satan. Boonop
straal God se boodskap uit alles wat julle doen.”
Wat ‘n wonderlike prentjie het Johannes nie van
hierdie Christene nie! Jong Christene!
In ‘n kort tydjie het hulle:
Jesus baie goed leer ken,
die Bose behoorlik op die neus laat kyk,
innerlik baie sterk geword, en
Jesus se boodskap deur hulle manier van lewe
laat grondvat!
In ‘n wêreld waarin Christene allermins vriendelik
hanteer is, het hierdie Christene nie net oorleef nie,
maar voluit vir die Here geleef met ‘n merkwaardige
invloed op hulle omgewing. In hierdie omgewing kon
hulle met hulle lewe boet deur net te sê hulle
glo in Jesus! Hulle is egter nie bang nie en sit alles in
om hulle verhouding met God te bou.
Let op: drie keer word die woord “ken” herhaal in
hierdie twee verse! Dit straal uit hierdie mense se
lewens! Hulle kén die Here! Hulle het geweet wat
God van hulle verwag, want hulle het ‘n persoonlike
verhouding met Hom. Hulle maak erns om God te
dien. Die gevolg is dat hulle innerlik baie sterk word
en Jesus se boodskap uit hulle lewe straal.
En dit alles in baie moeilike omstandighede.
Vraag is nou: As Johannes die brief vir ons moes skryf,
hoe sou sy prentjie van ons lyk?
Hoe sal sy prentjie van jou lyk?
Sou hy ook in net twee verse drie keer daarna verwys
het hoe goed ons God ken en vir Hom leef?
Sou hy ook kon sê dat God se boodskap uit alles straal
wat ons doen, soos hier aan die einde van vers 14?
Ernest