Skaars het Jesus sy aardse werk begin,
of die Satan kom met sy versoekings om
te mislei. Hy kom val Jesus aan in die woestyn
waar Jesus eenkant wil wees. Die Satan kom
met drie versoekings.
Die eerste: Verander gou die klippe hier rondom
in brood. Jesus het egter nie aarde toe gekom om
God se krag tot sy eie voordeel te gebruik nie,
maar om God daarmee te eer.
Die tweede: Spring gou van die tempel se hoogste
punt af. God se engele sal mos beskerming bied.
Maar God mag nie versoek word nie, en Jesus weier.
Die derde: Buig voor my en erken my as God.
Dan is al die koninkryke van die wêreld joune!
Satan se laaste is sy troefkaart, die aanloklikste.
Jesus verwerp dit met minagting.
Daar is net een God. Net Hy kan aanbid word.
Die ander is net afgode. Selfs Satan is slegs ‘n
verwaande wese wat voorgee om ‘n god te wees.
Jesus antwoord: “...daar staan geskrywe:
Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.”
– Matteus 4:10.

Net God is waarlik God!
Daarom sê Jesus in Matteus 5:3:
“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is.”
Dit is die grootste woorde wat ons ooit kan hoor,
dat ons geseënd is, deur God self! Dit is die mense wat
geleer het om alles van God te verwag en glad nie meer
op eie krag staatmaak nie. Mense wat saam met God
hartseer is oor die stukkende dinge in hierdie wêreld,
is ook geseënd. Ook hulle wat ‘n oop hart en hand het vir
mense rondom hulle wat swaar kry. Ook die vredemakers
is geseënd. En hulle wat elke dag op God se pad volhard.

Ernest