Jesus sê in Matteus 5:22: “Maar ek sê vir julle:
Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar
voor die regbank.”
Jesus het nie gekom om die wet van Moses tot
niet te maak nie. Inteendeel. Hy het gekom om
die wet op ‘n nuwe manier tot vervulling te bring.
Volgens Jesus moet ons die wet nou nog strenger
hou as wat die Fariseërs dit doen! Ja, jy lees reg.
Matteus 5:20: “Ek sê vir julle: As julle getrouheid
aan die wet nie meer inhou as die van die
skrifgeleerdes en Fariseërs nie, sal julle nooit in
die koninkryk van die hemel ingaan nie.”
Ons weet tog ons moet nou nie weer wetties gaan
lewe soos hulle nie. Wat beteken dit?
Vir Jesus is die wet nooit ‘n klomp reëls of dooie
voorskrifte wat ons slaafs moet nakom nie.
Vir Jesus gaan die wet van begin tot einde oor nuwe
verhoudings, met God en jou medemens.
Die wet verander jou optrede met elkeen met wie
jy daagliks te doen het. Daarom is ydel woorde en
beledigings vir Jesus net so goed soos dolksteke
wat mense doodmaak.
Daarom begin moord, volgens Jesus,
reeds op jou tong!
Daarom moet ons ons woorde tel.
Ernest