Matteus 6:1: “Moenie jou godsdienstige pligte
in die openbaar nakom om deur mense gesien
te word nie...”
Dit is maklik om godsdienstig te wees. Jy gaan
gereeld kerk toe, sing geestelike liedere saam
met ander, sê vroom dinge, en doen so nou en
dan iets vir die noodlydendes uit jou agtersak.
O ja, en ook jou “tiende”. Jy vertel ook vir ander
daarvan sodat die wat dit nie sien nie, dit hoor.

Jesus sê dit is nie die ware dien van die Here nie.
Veral nie as jy dit doen “...om deur mense gesien
te word nie.” Natuurlik moet ons ons verhouding
met die Here in die openbaar uitleef deur woord
en daad. Dit is juis ons getuienis. Maar nie om
gesien te word of erkenning te kry nie.
Jesus waarsku sterk teen so ‘n godsdiens.

Die godsdiens waaroor Jesus opgewonde is,
is daardie soort wat mense in verhouding met
Hom reg beoefen, op Hom gerig, om Hom te eer.
Dit is mense wat geleer het om daar waar
niemand hulle sien nie, getrou aan God te leef.
Om met integriteit kind van God te wees waar
niemand jou sien of weet wat jy doen nie. In ons
tyd doen mense nog steeds dinge om ander
mense te beïndruk. Selfs eredienste en
godsdienstige byeenkomste word so aangebied,
en waar “groot dinge” gebeur, wat groot gereël is,
dáár was nou meer godsdienstige “sukses”.
Godsdiens kan maklik ‘n publieke vertoning word
om ander mense of kerke te beïndruk. Getalle,
kollektes en vertonings word belangriker as
ontmoetings met die lewende Here! Dit word ook
belangriker as die suurdeeg, sout en lig wat in die
wêreld die verskil moet gaan maak en die boodskap
van die Here daar moet laat grondvat.

Dit is ook op ons as persoon van toepassing.
Waarvoor is ons in die erediens? Waarmee is ons
regtig besig in die bediening waar ons besig is?
Hoekom doen ons dit? Ons moet dit uit liefde vir
die Here, en vir mense, vir Hom doen!
Ons moet met alles in ons daarna strewe om die
roeping wat Hy ons gee uit te leef. Wanneer ons bid,
is dit nie om gesien te word nie. Wanneer ons vas,
is dit nie om vir almal te vertel nie. Wanneer ons
mense help, is dit nie om iets aan die groot klok
te hang nie.

God sal groot doen met dit wat ons opreg vir Hom doen!

Ernest