“Bekommernis is die meeste mense se
gunsteling tydverdryf”, sê iemand, en nog erger,
“...dit is Suid-Afrikaners se nasionale tydverdryf.”
Ons bekommer ons van die oggend tot die aand
oor dinge waaraan ons nie iets kan doen nie,
of nie dadelik of in die nabye toekoms iets aan
kan doen nie.
Soggens kyk ons gou na al die nuus om die jongste
kommer-nuus in die hande te kry. By die werk,
of oor ‘n koppie koffie saam met ‘n geliefde,
of ‘n vriend, of ‘n kollega, ruil ons dan die
kommer-nuus uit. En soos ons deur die dag
beweeg maak ons ‘n al hoe groter koor bymekaar
wat klaend saamsing!
Bekommernis maak mense siek. Geestelik en fisies!
Dit dreineer hoop. Dit kleur wolke donker in en los
nie eers ‘n silwer randjie nie. Dit trek die gordyne
toe oor uitsig op die toekoms.
Jesus sê ons moet ophou met bekommernis.
Hoekom? Want gelowiges aanbid die Almagtige God
wat sorg! Hy is ons Vader! Hy sorg vir klein, vir groot,
vir alles! Hy sorg dag na dag vir ons, sy kinders!
Bekommernis is ‘n mosie van wantroue in God.
Dit trek ‘n streep deur vertroue op God, en sy
versorging van ons. Ons moet regtig ophou kommer
en kla. Regtig!
Jesus sê die oplossing is “...beywer julle allereers vir
die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal
Hy julle ook al hierdie dinge gee” – Matteus 6:33.
Billy Graham het gesê: “Teleurstelling en kommer is
te verwagte wanneer ons ons hoop plaas op
enige iets anders as God en sy wil vir ons.”
Ernest