Behalwe dat ons so maklik kommer en kla,
is een van ons ander grootste probleme dat ons
mense veroordeel. Dit is meer as net ‘n probleem.
Dit is sonde. Ten opsigte van ander mense trek ons
baie maklik en gou ons regs-klere aan.
Regs-klere pas altyd goed. Ons eien onsself die reg
toe om links en regs opinies oor ander uit te spreek
en om mense gou en voor die voet te veroordeel.

Ons weet dikwels nie wat presies gebeur het nie.
Ons ken nie die feite nie. Ons weet nie waar die
persoon vandaan kom nie. Ons ken nie sy of haar
seer nie. Ons ken nie die geskiedenis nie. Maar ons
het alles te sê oor die persoon.
Jesus waarsku ons baie sterk hierteen. Wanneer Hy
na die wêreld kom sê Hy self Hy het nie gekom om te
oordeel nie, maar om te red!

Mense wat oordeel gaan eendag deur God met presies
dieselfde oordeel beoordeel word as dié waarmee hulle
ander beoordeel! Hierdie waarheid is so belangrik.
Lees dit asseblief weer: Mense wat oordeel gaan eendag
deur God met presies dieselfde oordeel beoordeel word
as dié waarmee hulle ander beoordeel. Miskien moet ons
dit selfs ‘n derde keer lees...

God alleen het al die feite tot beskikking. Daarom sê Paulus
in Romeine 12:19: “...laat dit oor aan die oordeel van God.”
Ons sal as self aangestelde regters voor God staan!
Moenie oordeel nie.

Jesus sê in Matteus 7:1: “Moenie oordeel nie, sodat oor julle
nie geoordeel word nie.” Ons moet bid dat die Here ons bevry
van al ons menslike vooroordeel. Die goue reël is om eerder
met God oor iemand te praat en vir iemand in te tree,
as om met mense oor die persoon te praat, en dan met
vooroordeel en veroordeling. God is Regter.
Ons kan maar ons regs klere uittrek. Ons is nie geroep om
vonnisse uit te spreek nie. Los dit vir God.

Albert Woods het gesê: “As ons gedurig besig is om mense
openlik of in ons gedagtes te veroordeel, het ons nie tyd of
enige voorneme om hulle lief te hê nie. En ons wéét watter
een van die twee gesindhede Jesus veroordeel het!”
Los dit! Ook in jou gedagtes! Los dit vir God!

Ernest