Jesus gebruik ‘n interessante beeld wanneer
Hy praat oor gebedsverhoring.
Matteus 7:7-8: “Vra, en vir julle sal gegee word;
soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal
oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang;
en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop,
sal oopgemaak word.”

Partykeer wil ons mense verras en kom dan voor
“dooiemansdeur” te staan. Jy klop,
maar niemand maak oop nie. Jy los dan maar
‘n nota op die deur, of skakel om te sê jy het
kom kuier maar hulle was nie daar nie.

Wanneer jy egter by God aanklop kan jy verseker
weet Hy is “daar”! Altyd. Jy hoef nie ‘n nota te los,
of later weer te probeer nie. God beantwoord jou
aanklop. Hy is nie afwesig, of te besig, of toon ‘n
gebrek aan belangstelling nie. Ten opsigte van gebed,
antwoord God.

Moet ook nie te gou handdoek ingooi nie.
Hou aan met klop. Volhard in gebed.
Wanneer jy seker is dat jy binne God se wil is,
kan jy aanhou sonder om Hom “met rus te laat.”
God antwoord op sy tyd op jou gebede,
soos Hý wil, ter wille van sy eie Naam en eer,
en tot uitbreiding van sy koninkryk.
God luister altyd na gebed wat in die Naam van Jesus
na Hom toe gebring word. Jy kan enige tyd aan die
Here se deur klop. Maak jou selfs daar tuis.
Hy is daar!

Ernest