Dit is nie aldag maklik om ‘n volgeling
van Jesus te wees nie. Ons weet dit.
Kom ons wees eerlik: dit is makliker om
‘n bewonderaar van Jesus te wees as ‘n volgeling.
Daar is hordes bewonderaars van Jesus in die kerk,
wêreldwyd. Hulle volg Hom op ‘n veilige afstand.

Bewonderaars se geloof kos hulle niks nie.
Die rede is dat bewonderaars self die voorwaardes
stel om Jesus te volg. Hulle bepaal hoe, waar en
wanneer hulle Jesus gaan volg.
Opregte dissipels van Jesus volg egter op die Here
Jesus se voorwaardes. Hulle leef naby aan Jesus.
Altyd! Wanneer dit maklik is, soos in die kerk,
en wanneer dit moeilik is, daar buite. Hulle steek
grense oor saam met die Here. Hulle gaan saam
met Hom waar hulle nooit andersins sou gaan nie.
Hulle bly kort op sy hakke, in sy voetspore.
Hulle doen dit deur dik en dun.

Dit is selfs omstandighede waarvan die Here in
Matteus 8:20 sê: “...die Seun van die mens het nie
eers ‘n rusplek vir sy kop nie.” Dit is juis dit wat
dissipels onderskei van bewonderaars.
Dissipels volg nie net as dit vir hulle maklik of lekker
is nie. Hulle volg juis volhardend in moeilike
omstandighede.
Genade is verniet. Dissipelskap is peperduur.
Dit vra totale lojaliteit en ‘n lewenslange verbintenis
aan Christus. Alles wat belangrik mag lyk,
word nou tweede gestel. Jesus is die belangrikste.

‘n Besoeker aan ‘n sendingstasie het dag vir dag gesien
hoe sendelinge en ander personeel in die warm son
eiehandig ‘n hospitaal bou. Die geld en beskikbare
arbeid min, maar die toewyding groot. Die besoeker
het later uit verbasing gevra: “Maar kos dit julle nie
hopeloos te veel aan tyd en liggaamskrag en fondse
om so ‘n byna onmoontlike taak aan te pak nie?”
Verbaas het hulle hom geantwoord:
“Dis mos God se werk. Ons bereken nie die koste nie!”

Ernest