Glo ons regtig nog in wonderwerke?
Met ons kennis wil ons alles wetenskaplik
verklaar. Dit is verseker goed om ons kennis
aan te wend. Maar dit kan ons afstomp om
te dink alles is net te verklaar, en wonderwerke
bestaan nie meer nie. Hoeveel mense het nie
al die grootste wonderwerke in groot nood
beleef nie!? Ons kan daarvan getuig teenoor
mekaar.

In Matteus 8 gebeur dit ook met die dissipels.
Hulle beland skielik en onverwags in ‘n storm
op die See van Galilea. Jesus is saam met hulle
in die skuit. Die vreemdste is dat Hy lê en slaap.
Midde in die storm vas aan die slaap. Op ‘n klein
bootjie. Benoud maak hulle Jesus wakker.
Hy doen die “ongelooflike”.

Hy praat die water en die wind met een woord stil!
Skielik is die wind kalm en die see stil. Die dissipels
kan nie hulle oë of ore glo nie. Net een Persoon
staan tussen verwoesting en kalmte: Jesus! Net Hy.
En net een woord. Net dit. Want Hy is die Here God.

Vandag nog luister die natuur na Hom. Glo jy dit regtig?
Jesus is Here oor alles en almal. Hy is die Here oor
die heelal! Die heel eerste vers van die Bybel sê dit al.
Genesis 1:1: “In die begin het God die hemel en die
aarde geskep.” Glo jy dit? Dan kan jy glo dat God vandag
nog totaal oor die heelal regeer!
Aanbid Hom met eerbetoon. Hy is Almagtig.
“Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper
van die hemel en die aarde...”
God doen steeds wonderwerke. God Drie Enig.
Verwag elke dag wonderwerke!

Ernest