Daar is niks so finaal soos die dood nie.
Maar Jesus oorwin die dood! Selfs nog
voor sy opstanding uit die dood,
na die kruisiging, heers Jesus oor die dood!
Hy laat die dood verloor. Want Jesus is sterker
as die dood. Dit het Hy bewys op daardie dag
toe Hy die raadslid van die sinagoge se
dogtertjie uit die dood lewend gemaak het.

Toe mense in Kapernaum by Jesus kom met
die nuus van die dogtertjie se dood,
was Hy glad nie ontstel of bekommerd nie.
Hy sê in Matteus 9:24: “...die dogtertjie is
nie dood nie, sy slaap net.” Vir Hom was dit
so goed asof sy slaap.
Natuurlik het die omstanders wat dit gehoor
het Hom uitgelag, sê Matteus 9:24.

Vandag nog lag mense as hulle hoor Jesus
doen sogenaamd wonderwerke...
Hierdie mense in Kapernaum het immers
die verskil tussen slaap en dood geken.
Die dogtertjie was dood. Jesus gaan haal
haar in die doderyk en bring haar terug na
haar liggaampie toe! Sy leef weer!

Jesus is vandag nog sterker as die dood.
Die dood het nie die laaste sê oor jou nie.
Jesus tel jou oor die doodsvallei,
tot in sy nuwe wêreld.
Hy wag God se kinders by die dood in,
en dra hulle veilig na die plek wat Hy
berei het. Hulle nuwe hemelse adres.
Vandag nog doen Jesus met die dood wat
Hy wil. Glo dit! Moenie bang wees nie.
Verwag wonderwerke in lewe en dood.
Hy heers oor alles!

Ernest