Baie mense in hierdie wêreld sê dat
godsdiens “a pie in the sky when you die” is.
Godsdiens is ‘n goeie manier om ‘n mens vir die
harde werklikhede van hierdie lewe te verdoof.
Daarom die belofte van “a pie in the sky when
you die.” Intussen kan ons sit en wag dat God
alles regmaak wat ons hier op aarde verbrou het,
en steeds verbrou.
Die ware evangelie van die Woord van God sê
egter iets heel anders. Die evangelie wat so duur
gekos het, sê nie dat ons van geloof ‘n betekenislose
trooswoord kan maak nie. Die boodskap van die Bybel
is juis dat die navolging van Christus nie maklik is nie.
In Johannes 16:33 sê Jesus: “...In die wêreld sal julle
dit moeilik hê; maar hou moed:
Ek het die wêreld klaar oorwin.”
Ware uitlewing van jou geloof is harde werk.
Dit kan jou duur kos. Dit kos jou in elk geval jou lewe.
Jy leef weg van jouself na God en jou medemens toe.
Dit doen en praat nie net nie. Jy word soms die
onskuldige sondebok. Jy moet ander kere gemors
opruim waarvoor jy nie verantwoordelik was nie.
Die navolging van Christus eis veel meer as om maar
net ‘n naloper te wees, soos die dissipels wat
omgedraai het toe hulle by Jesus die eise van
dissipelskap gehoor het.
Om Christus na te volg is oneindig meer as om
Christus maar net na te praat en maar net ‘n
saam-stemmer met die breë beginsels van die
Christelike geloof te wees.
Om Christus na te volg is duur. Maar dit genees
en herstel die mense en die aarde!
Dink weer mooi daaroor:
Is jy ‘n navolger van Christus, saam met Hom,
waar Hy is...
of is jy ‘n naprater wat maar so op ‘n afstand
na-loop...?
Ernest