Die bekende Amerikaanse argitek, filosoof en
skrywer, R Buchminster Fuller, het by geleentheid
gesê: “The most important thing about Spaceship Earth
– an instruction book didn’t come with it.”
Wanneer ons kyk na wat in die wêreld aan die gang is,
wil dit lyk of dit waar is. Die wêreld het baie ambisie en
groot geleerdheid, maar leef nie met die instruksieboek
vir die wêreld nie. Ons breek die planeet af, veroorsaak
gate in die osoonlaag, bedreig skaars diere spesies,
besoedel ons see met olie, verwoes die natuur om
hulpbronne te kry vir ons weelderige leefstyl,
en laat fisiese en emosionele geweld hoogty vier in
verhoudings met ons medemens.
Ons kan die lys langer en langer maak.

Is ons regtig sonder ‘n instruksieboek, of ignoreer ons
net die een wat ons het? Wanneer ons Genesis 2-3 lees,
sien ons wat die Boek vir “Spaceship Earth” sê!
God skep die heelal, met die aarde daarin! Kyk mooi daarna,
sê God vir die mens. Bewoon dit, bewerk dit, bewaak dit.

Maar die mens wil God wees. Wil al die kennis van God hê,
en eet van die Boom van Kennis. God sit hulle uit die tuin
omdat hulle God wil wees. Hulle haal nog asem, hulle harte
klop nog, maar hulle is dood. Nou afgesny van God.
Verwyder van mekaar as mens en medemens.

Die skeppingsverhaal van die Bybel is iets wonderlik,
en tog ook dra dit die grootste mislukking en hartseer
deur die toedoen van die mens wat God wil wees.
Dit is wat gebeur as mens jou eie God wil wees.
Die wêreld doen dit steeds. Elke keer wanneer ons nie
onsself daaraan steur om God se verteenwoordigers te
wees nie, volgens Genesis 1:27, en jou rug draai op God
en jou medemens, eet jy van die Boom van die Dood.
Ons keuses is vir lewe, of dood.

Is dit regtig onverklaarbaar waar die fout met die wêreld lê?
Is die wêreld regtig sonder ‘n instruksieboek? Of wil ons net
nie weet wat daarin staan nie, en dit nog minder in
gehoorsaamheid aan God gaan leef nie?
Gaan jy jou eie god wees...?

Ernest