Dinge verander voortdurend: drasties en dramaties!
Wat seker was word onseker. Waardes en
lewenshoudings verander. Dit is nie meer so maklik
om besluite te neem en sin te maak uit alles nie.
Dit laat ook ons geloofslewe nie onveranderd nie.
Talle tekste in die Bybel weerspieël egter dat mense
al eeue terug ook dikwels deur groot veranderinge
moes gaan. Dit help ons baie.

Spreuke 8 gaan byvoorbeeld oor ‘n tyd in Israel se
geskiedenis toe dit voorspoedig gegaan het. Toe was
dit maklik om te glo en vaste waardes en lewensreëls
te hê. Die sieninge van Spreuke 8 word vandag nog
deur mense van die voorspoed-teologie aangehang:
Gelowige mense word nie siek nie. As jy bid en jou
gebede word “nie verhoor nie”, is jou geloof te klein.
Hulle treur nie, is nie “arm” nie, en wat nog alles...
Maar die lewe het ‘n manier om skielik te verander.
Voorspoed neem die wyk. Jy verloor jou mag.
Jou skure raak leeg. Dit reën eenvoudig nie.
Ons ken die verhaal van Job wat alles verloor. Alles!

So ook met Israel. Eers loop die Babiloniërs oor hulle,
toe die Perse en toe die Grieke. Na al hierdie gebeure
word die boek Prediker geskryf. Nou lyk dinge anders
as in Spreuke 8. Voorspoed geloof het verdwyn.
Sekerhede verdwyn. En skielik het lot en God nie meer
gerym nie. Mense skryf dan geloof en die kerk en God af!

Maar daar is ‘n alternatief! Dit is om in veranderende tye
te worstel om nuwe insig en ‘n nuwe geloofs-verbintenis
met God te kry. Dit is wat in die boek Prediker gebeur.
Al die voorspoed waarvan tye soos Spreuke 8 skryf,
word nou waargeneem vanuit ‘n ander perspektief.
Die Prediker gooi egter nie die baba met die badwater
uit nie. Hy worstel om nuut oor geloof te dink in uiters
moeilike lewensomstandighede. Die prediker draai nie
sy rug op God nie. Wat Prediker wel agtergekom het,
is dat die manier waarop God die wêreld bestuur,
nie deur maklike formules en eenvoudige belydenisse
verklaar kan word nie.
Prediker 7:24: “Die betekenis van wat gebeur,
lê buite bereik, baie diep; wie kan dit vind?”
Ook Prediker 11:5 sê treffend: “Net so min as wat jy kan
verstaan hoe gees en liggaam bymekaar uitkom in die
skoot van ‘n swanger vrou, net so min kan jy die werk
van God verstaan...”

Prediker se groot gevolgtrekking is:
Jy kan God met die lewe vertrou, al verstaan jy dit nie!
Die Prediker het ver getuimel, maar in die arms van God
geland. Die lewe bly ‘n geskenk van God, of dit nou
voorspoed of teëspoed is. Dit is nie fatalisties nie.
Daar is net eenvoudig geen suksesresep nie. Al wat daar is,
is gawes uit God se hand! Al wat oorbly na alles,
is dat jy in God se hand is!

Prediker kom tot die gevolgtrekking:
Geloof in God is nie bedoel om jou paadjie gelyk te
maak nie! Geloof in God is bedoel om jou krag te gee om,
in watter omstandighede ook al, vir die lewe te kies,
en om die lewe self as ‘n geskenk van God te waardeer,
en te geniet!
Waarom glo jy? Vir “voordele”? En as jy dit alles verloor?
Glo omdat geloof aan die lewe sin gee, en jy nié sonder
God waarlik sal lewe nie! Dit is wat Prediker sê...
Waarom glo jy...regtig?

Ernest