Jesaja 8 gaan oor ‘n tyd in Israel wat ooreenstem
met ‘n tyd soos nou, hier by ons in Suid Afrika.
Dit is ‘n era van spanning, nasionaal, en wêreldwyd.
Dit het vir die mense van Juda en Israel gevoel of God
self hulle verlaat het. Selfs Jesaja sê dat God self Hom
vir hulle verberg het. Die tipiese reaksie is dat ons
rondskarrel. Ons soek raad en uitsig. Wat van ons werk?
Die toekoms van grondbesit? Ekonomiese ooruitsigte?
Gesondheidsdienste? Persoonlike oorlewing? Pensioen?
Party van die mense in Jesaja het spiritiste gaan raadpleeg,
volgens Jes. 8:19. Daar was groot paniek. Of hulle nou
boontoe of ondertoe gekyk het, sê Jesaja, oral was daar
benoudheid en angs en duisternis. In verse 21-22 sê hy dat
hy die dag sien kom wanneer die mense die regeerders én
God sal vervloek!
Juis in dié tyd sê Jesaja vir ‘n klein groepie gelowiges om hom:
“Ek vertrou op die Here wat Hom vir die nageslag van Jakob
verberg, op Hóm hoop ek. Hier is ek en die kinders wat die
Here vir my gegee het. Ons is in Israel lewende getuies van die
Here die Almagtige...” Jes. 8:17-18.
Is dit nie ook maar ‘n “pie in the sky” antwoord nie?
Om wanneer dit donker word rondom jou maar net boontoe
te kyk en te hoop, al lyk dit of God Hom vir jou verberg?
Is dit goedkoop troos soos: Toemaar, die Here sal sorg?
Nee! Dit is nie! wanneer Jesaja vir hulle sê “terug na die
getuienis van die Here”, sê hy nie vir hulle om maar net weer
die Bybel te gaan lees nie. Hy sê hulle sal vir hulle ‘n ander
staanplek moet gaan kry! Hulle, en óns, moenie in die mistige
donker kol bly staan en van daar af planne beraam nie.
Hulle moet by God se getuienis gaan staan. Met ander woorde,
aan God se kant van sy trou in die geskiedenis met hulle!
Jesaja praat hier met mense wat eens op ‘n tyd langs God en
by God gestaan het. Maar hulle het selfgenoegsaam geword.
Hulle voorspoed het toegeneem en van toe af het géld hulle
hoogste doel in die lewe geword. Hulle het arm mense begin
uitbuit en verdruk. Oor Jerusalem sê Jesaja 1:21:
“Die getroue stad het ‘n ontrou slet geword.” Erge woorde!
Soos ‘n vrou wat voorgee dat sy vreeslik lief is vir haar man,
maar agteraf ‘n klomp minnaars aanhou. Hulle het vreeslik
kerk gehou, en gebid, en gesing, en tiendes gegee, maar
terselfdertyd ver tekort geskiet in die uitlewing van hulle
geloof in die praktyk waar hulle reg en geregtigheid verkrag
het. God het ‘n afsku ontwikkel aan hulle offers en feeste.
Hulle samekomste en godsdienstige voorgee praktyke.
God sê selfs dat Hy nie sal luister as hulle bid nie – Jes. 1:15.
In verse 16 -17 sê die Here: Reinig julle. Hou op om kwaad
te doen. Leer om weer goed te doen. Sorg dat reg geskied
aan die onderdruktes...weeskinders, weduwees.
Mense naby aan jou by wie jy verbyleef. Op wie jy jou rug
draai. Mense wat moet eet en drink. Moet leef uit wat jy
met hulle moet deel.
God se gemeente het dus eenkant gaan staan en net vir
hulleself gesorg. Die probleem is nie dat God na ons toe
moet kom nie. Hy hét! Johannes 1:14 beklemtoon dit!
Dit is nie God wat na ons toe moet terugkom nie, maar ons
wat na God toe moet gaan!
Geloof verdoof jou nie vir die werklikheid met ‘n belofte
van ‘n plek in die hemel nie. Om die Here te dien is harde
werk. Nie godsdienstige speletjies nie. Dit is doen, en nie
voorgee nie. Dit is diens aan God wat jou deur die liefde
van Jesus dring tot medemenslikheid en medelye.
Ons moet ophou dink dat ons gered word om hemel toe te
gaan, en dan terugsit en wag daarvoor! As dit alleen die doel
van redding was, hoekom is jy nog hiér?
Jesus het gesê “soos die Vader My gestuur het stuur Ek julle.”
Ernest