Reeds in 1 Samuel “betoog” die volk vir nuwe leiers.
Hulle sê vir Samuel hy is as ou man oor die muur en
sy twee seuns wat moet regeer is vrot van korrupsie!
Hulle eis ‘n koning. Hulle het ‘n goeie saak. Die mense
leef in angs. Kort-kort kom plunder die Filistyne hul
gebied en brand hulle huise af. En intussen wil Samuel
se twee seuns net die laaste vettigheid van hulle beroep
as regeerders misbruik om die “soustrein” te ry. Samuel
is nie ingenome met die idee nie. Wanneer hy by God kla,
hoor hy dat hy nie so kleinserig moet wees nie.

Hulle het dit eintlik teen God self! God sê vir Samuel hy
moet aan die volk verduidelik wat die implikasies daarvan is,
wat die regte van ‘n koning is – 1 Sam. 8:10-22.
Samuel doen níé wat God sê nie. Hy stuur die mense net
huis toe. God wil hulle tegemoetkom, maar Samuel gaan
staan in die pad. Dit lyk oënskynlik of niks nou verder gaan
gebeur nie.

1 Sam. 9 gaan na ‘n heel ander plek...Kis uit die Benjamin stam.
Welgesteld, met ‘n goed geboude seun, Saul. Kis se donkies
raak weg. Saul en ‘n slaaf gaan soek die donkies. Die slaaf sê
hulle moet ‘n man raadpleeg wat heldersiende is. Hulle vra die
meisies by die waterput wáár die man woon. Hy woon nie op
die dorp nie, maar is “toevallig” vandag op die dorp!
By die dorp se ingang loop hulle in die ouerige man vas.
Wie is die siener? Samuel! Die donkies is reeds gevind, sê hy.
Maar hy het ‘n ander boodskap vir Saul. Want “toevallig”,
net mooi die vorige dag, het God vir Samuel gesê daar sal
‘n man na hom toe kom wat hy as koning moet aanstel.
So kom die aap uit die mou!

Die mense staan en betoog in Rama. Hulle wil ‘n koning hê!
Samuel los hulle net daar. Intussen raak Kis se donkies soek.
Samuel en Saul loop mekaar raak. Donkies en betogers het in
God se plan alles met mekaar te make! God kry Saul by Samuel!
God is heeltyd aan die werk: donkies raak weg, Saul gaan soek,
‘n slaaf gaan saam wat “toevallig” weet van die heldersiende
man, Samuel gaan “toevallig” na dieselfde dorpie vir iets heel
anders, die meisies is net mooi by die put as hulle wil weet
waar die man woon, en die twee loop mekaar “toevallig”
in die poort raak...

Toevallig? Nee, God aan die werk!
God is dag en nag besig met sy mense, met sy kinders.
Hy werk deur die alledaagse soos donkies en slawe, en meisies
by ‘n put. God werk nie onder koerantopskrifte nie. Hy werk
byna onherkenbaar, soos met die Timmerman uit die klein dorpie
van Nasaret! So onherkenbaar dat net die geloof Hom as
Seun van God herken. Of jy God in die alledaagse dinge gaan
raakloop, sal afhang of jy met ‘n geloofsoog daarna kyk.
God werk veral ook incognito, nie maklik herkenbaar nie.

Dit is ook hoe God jou in die alledaagse lewe gaan gebruik.
Dit gaan afhang of jy hande in die lug gooi, of in die geloof
betrokke raak by dit wat God besig is om te doen, oral!
Soos water gaan haal by ‘n put, of donkies soek.
God werk deur doodgewone gebeure en dinge.
En deur doodgewone mense soos jý!
Efesiërs 5:16: “Maak die beste gebruik van elke geleentheid...”

Ernest