Die Bybel is weliswaar ‘n heilige boek.
Die mense van wie daarin vertel word is inderdaad
dikwels redelik onheilig! Sommer die eerste
mensepaar is geen engele nie. Gelukkig vertel die
Bybel oor onheilige mense, anders sou die Bybel nie
veel vir ons te sê gehad het nie. Laat staan nog dat
dit ons sou kon troos.

Jakob kom uit ‘n gewone huis. ‘n Huis met sy gewone
familie twiste, twee broers wat oorhoops is met mekaar,
die een die pa se witbroodjie, en die ander die ma se
witbroodjie, waarin kinders nie altyd vir hul ouers die
waarheid vertel nie, en waarin ouers nie altyd reg optree
teenoor hulle kinders nie. Jakob moes vroeg vlug voor
Esau oor sy bedrog. Maar hy het altyd ‘n sak vol planne.
Hy kon selfs met ‘n pot lensiesop ‘n hele erfporsie koop.
Op sy vlugtog kry ons hom by Lus. Hy is nou alleen. Hy is
onseker. Hoe kom hy by Laban in Haran? Hy oornag daar
by Lus. Klip onder die kop raak hy aan die slaap. Hy droom
van ‘n trap tot in die hemel en engele wat op en af klim.
En dan die nagmerrie gedeelte: hy sien God staan!
Benoudheid pak hom beet. Het God daar kom staan om
te oordeel? Sy droom het tog inderdaad ‘n slegte gewete.
Daarom vlug hy voor Esau. Hy het sy broer bedrieg en sy
pa belieg. Onder sy ma se vlerk uit,
loop hy hom nou in God vas!

Dinge wat ons aanvang haal ons in. Vir Jakob is hierdie
plek nou skrikwekkend, sê hy. Toe God praat is dit
verrassend anders as wat Jakob verwag: Ek ken jou oupa
en jou pa. Ek gaan saam met jou. Waarheen jy ookal op
pad is – Gen. 28:15.
God het toe al die tyd opgestaan om Jakob te seën en te
sê dat Hy saam met hom gaan! Verrassing! Troos!
Hy is die Verbondsgod. Hy gaan saam.

Daar is nog ‘n verrassing: Jakob was diep in die moeilikheid
toe hy daardie aand sy kop op die klip gesit het. Sy pa is
hartseer. Sy ma wonder waar hy is. Sy broer soek sy bloed.
Voor hom lê die onbekende en onsekere. Toe hy die
volgende oggend opstaan, sê hy in Genesis 28:1:
“Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie.”
Hy sê in vers 17 dit is ‘n poort na die hemel! Dit is die
wonderlikste nuus! Die plek waar hy met ‘n slegte gewete
doodsbenoud lê, is die poort na die hemel!

Selfs wanneer ons diep in die moeilikheid is, kan ons daarna
kyk asof dit ‘n poort na die hemel is. Jy kan! Want waar God is,
daar is die hemel. En Hy is daar by jou! Dit het Jakob ontdek.
“Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie.”
God sal oral wees waar jy is.
Jy is die fokuspunt van God se teenwoordigheid!
Moeilikheid en teleurstelling sal daar altyd in die lewe wees.
Maar een ding weet ons uit hierdie verhaal van Jakob:
God gaan saam! God is daar!
En die onwaarskynlikste plekke is ook poorte na die hemel!

Ernest