Jy kan regtig besluit vir wie jy wil bang wees,
en vir wie nie. Ons is óf vir mense bang, of vir God.
Maar nooit vir albei tegelyk nie. So sê Jesus!
Wanneer jy bang is vir mense en hulle die hele tyd
gelukkig probeer hou, sal jy nie dieselfde teenoor
God optree nie, as wanneer jy bang is vir God.
Hierdie “bang” vir God is heilige eerbied aan Hom
en aanbidding van Hom alleen. Dit gee perspektief
van waar op die rangorde die mens lê.
En omgekeerd. Wanneer jy groot eerbied het vir God,
en vir Hom lewe, sal jy nie daarop uit wees om mense
se guns te probeer wen nie. Iewers in die lewe moet jy
besluit by wie jou onverdeelde lojaliteit lê.
Jy moet besluit of God die belangrikste van alles en
almal in jou lewe is, en of mense daardie “eer” gaan kry.
Maar jy kan nie heeltyd op twee gedagtes hink van wie
vir jou die belangrikste is nie.
Jesus praat met sy dissipels oor die vervolging wat voorlê
omdat hulle in die wêreld sy getuies gaan wees.
Hy sê in Matteus 10 van vers 16 af: “Onthou: Ek stuur julle
soos skape tussen wolwe in. Wees dus versigtig soos slange
en opreg soos duiwe. Pasop vir die mense...”
Jesus vertel dan hoe hulle vervolg en gemartel sal word.
Hulle sal voor mense in hoë poste te staan kom.
En dan sê Jesus van vers 18 af: “Dit sal julle geleentheid wees
om voor hulle en voor die heiden nasies van My te getuig.”
Jesus sê hiermee dat mense wat jou bedreig ook terselfdertyd
‘n geleentheid kan wees. Ons moet ook nie bang wees wat
ons vir mense sal sê nie. As getuies van die Here sal Hy self
deur ons praat.
Vers 19-20 sê: “Wanneer hulle julle uitlewer, moet julle julle
nie bekommer oor hoe en wat julle moet sê nie, want op
daardie oomblik sal God aan julle gee wat julle moet sê.
Dan is dit nie julle wat praat nie, maar die Gees van julle
Vader wat deur julle praat.”
God is al die pad saam met hulle! Al die pad saam met ons!
In alles!
Hulle moet versigtig wees, maar nie bang nie. Jesus sê in
vers 28: “...vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel
in die hel kan laat vergaan.”
Wat God betref: Hy het die mag om te besluit oor waar jy die
res van die ewigheid gaan deurbring. En ménse?
Hulle kan vir net ‘n paar jaar jou lewe beïnvloed. Daarna
verloor hulle vir altyd hulle invloed op jou.
Daarom, wat is jou keuse? Aan wie gaan jy jou onverdeelde
lojaliteit en eer gee? Gaan jy voor God buig en Hom eer?
Of gaan jy bang wees vir mense en wat hulle dink van jou,
en doen teenoor jou? Moenie vir mense bang wees nie.
Jy moet net heilige eerbied vir God hê! As getuie van die Here
respekteer jy alle mense, maar jy aanbid God!
Ernest