Die Here Jesus sê iets baie belangrik in
Matteus 10:32-33: “Elkeen wat hom voor die mense
openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik
uitspreek voor my Vader wat in die hemel is. Maar hom
wat My voor die mense verloën, sal Ek ook verloën voor
my Vader wat in die hemel is.”

Dit is dringende woorde aan ons! Ons weet, dit vra baie
moed om ‘n uitgesproke getuie te wees vir die Here in
hierdie wêreld. Dit vra moed om tussen ongelowiges op
te staan en te sê: “Ek glo in Jesus Christus as die Here
van my lewe. Ek volg Hóm.”
Ons word dikwels gekonfronteer met omstandighede
wat vra dat ons praat! Wanneer ons dan stilbly,
verloën ons die Here, soos Petrus by die vuur.

Maar die goeie nuus is dat daar iets ongelooflik gebeur
wanneer jy praat ter wille van die Here! Dan word daar
ook in die hemel oor jou gepraat! Niemand minder nie
as Jesus Christus sal, wanneer jy oor Hom praat,
voor God en al die engele Hom openlik uitspreek dat jy
sy volgeling is!

Dit is merkwaardig! Dit is motiverend. Dit maak ons
entoesiasties. Dit bemoedig ons. Dit gee ons getuienis krag.
Dit laat ons veerkragtig lewe vir die Here!
Om te dink dat die Heerser oor die heelal oor jou praat op
die belangrikste plek in die heelal! In die hemel!
By God die Vader!

Aan die ander kant: As jy stilbly wanneer jy oor die Here
moet praat...dan sal Jesus ook maak of Hy jou nie ken nie,
voor God die Vader. Want dan bring jy skande oor sy Naam.
Om vir die Here te getuig is nie iets wat jy doen as jy die dag
daarvoor lus het nie.
Dit is deel van die DNA van ons geloof!
Dit is die hartklop van ons pad saam met die Here!

Ernest