Kan dit waar wees? Wie jou ontvang,
ontvang die Here?
In Matteus 10:40 sê Jesus dit self:
“Wie julle ontvang, ontvang My...”

Dit impliseer natuurlik dat jy ‘n dissipel
volgeling van die Here is. En ons weet as
volgelinge van die Here verteenwoordig ons Hom.
Om te dink dat Jesus en ons so naby aan mekaar is,
dat mense Hom ook in hulle huise verwelkom
wanneer hulle ons daar verwelkom. Ons is Jesus
se gesante. Ons is Jesus se gestuurdes.
Hy het self gesê dat Hy ons stuur soos die Vader
Hom gestuur het. Hy stap oral saam met ons in
hierdie wêreld.

Ons moet meer doelbewus lewe vanuit die
werklikheid van sy teenwoordigheid in ons lewe!
God waarborg dit. God self is ook saam met ons
onderweg. Ons is nooit alleen nie! Die Heilige Gees
woon ook in ons. Waar ons gaan, is Hy! Ons gee nie
een enkele tree in hierdie lewe op ons eie nie.
Ons kan nie eers asemhaal sonder Hom nie.

Ons tree ook nooit in eie gesag op as Christus se
verteenwoordigers nie. Dit gaan nie oor onsself nie.
Ons is daar vir God. Daarvoor leef ons, beweeg ons,
en is ons, in sy krag! Geen wonder nie dat Jesus ons
kom leer: “Wie julle ontvang, ontvang My...
en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het.”

Kyk net hoe barmhartig maak Jesus hierdie kontak in
vers 42: “Wie aan een van hierdie geringstes net ‘n
beker koue water gee omdat hy my dissipel is,
sál sy beloning kry. Dit verseker Ek julle.”
Met ander woorde: Elkeen wat goed is vir Jesus se
volgelinge, word deur God raakgesien.
Selfs al doen hulle maar net iets kleins vir een van sy
kinders, sal God hulle daarvoor beloon.

Jy is baie kosbaar in die Here se oë. So kosbaar dat
Hy elke tree van die lewe saam met jou stap.
Jy is so kosbaar vir die Here dat Hy goed sal wees
vir elkeen wat vir jou goed is!
Skep daarom moed!
Wees vandag ‘n lewende getuie vir die Here!

Ernest